OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Bongolethu het Vrydag 2 Oktober 'n vreedsame optog van Bongolethu tot by Oudtshoorn se munisipale kantore gehou om 'n memorandum rakende veiligheid en dringende ingryping aan die burgemeester van Oudtshoorn-munisipaliteit, Jan van der Ross, te oorhandig.
Hlumani Witbooi van die Amadoda Community Initiative het die oorhandiging namens die gemeenskap gedoen.
'n Memorandum met griewe is ook aan die polisie oorhandig vir die dringende aandag van brig. Avril Kriga.
In die dokument spreek die Bongolethu-gemeenskap hulle ontevredenheid uit oor die polisie se vermeende gebrek aan vinnige en doeltreffende optrede teenoor kriminele en bende-aktiwiteite in die gebied.
Memorandum aan munisipaliteit en polisie
Die dokument identifiseer onder meer bende-aktiwiteite, kleiner diefstal, roof en straatmisdaad, huisbraak en onwettige betreding as ernstige bekommernisse.
Volgens die gemeenskap word Bongolethu steeds deur verskeie vorme van misdaad geteister, waaronder bende- en dwelmverwante aktiwiteite, roof, kleiner diefstal, huisbraak, vandalisme, afpersing, intimidasie en dreigemente teen inwoners en sake-eienaars.
Vrees vir intimidasie of vergelding kan volgens die memorandum ook veroorsaak dat inwoners huiwerig is om misdaad aan te meld.
Die beplande ontplooiing en ondersteuning van die Pops-eenheid oor die komende drie maande word verwelkom. Daar word gehoop dat die ingryping 'n daadwerklike verskil sal maak deur misdaad te ontwrig en inwoners veiliger te laat voel.
Die gemeenskap vra vir groter same-werking tussen die munisipaliteit, SAPD, skole, gemeenskapsveiligheidstrukture, en sport- en jeugorganisasies om misdaad te bekamp en jongmense van konstruktiewe alternatiewe te voorsien.
Onvoldoende straatbeligting en swak onderhoude openbare ruimtes word ook as faktore uitgelig wat tot misdaad kan bydra. Daar is verder 'n beroep gedoen dat die polisie misdaadbrandpunte identifiseer en hulpbronne in die gebiede beskikbaar stel.
Wat die gemeenskap eis
- Groter polisiesigbaarheid en gereelde patrollies, veral by geïdentifiseerde misdaadbrandpunte en gedurende hoërisikoperiodes.
- Vinniger reaksie op noodoproepe en voorvalle van bendegeweld, afpersing, roof en ander ernstige misdaad.
- Intelligensiegedrewe misdaad-voorkomingsoperasies teen individue en netwerke wat by bende- en dwelmverwante aktiwiteite betrokke is.
- Gereelde gesprekke tussen die SAPD, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte, gemeenskapsleiers en inwoners.
- Toepaslike maatreëls om inwoners wat misdaad aanmeld teen intimidasie of vergelding te beskerm, asook beter kommunikasie oor aangemelde voorvalle, ondersoeke en terugvoer aan klaers, binne die perke van wetlike en operasionele vereistes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’