OUDTSHOORN NUUS - ’n Uitstappie na Uniondale het tragies geëindig toe Ronaldo van Rooy (16), ’n gr. 9-leerder van Dysselsdorp Sekondêr, Dinsdag 29 September in ’n plaasdam verdrink het.
Volgens beskikbare inligting het hy by sy ma in Uniondale gaan kuier vir die skoolvakansie toe die voorval gebeur het. Hy het saam met maats op Dinsdag 29 September in ’n dam gaan swem. Dit is nie duidelik presies wat gebeur het nie.
Oudtshoorn Courant het die gebroke familie besoek. Mary Hendricks, sy ouma wat hom grootgemaak het, vertel hy was hul kangaroe-baba, die laatlam en die lig in almal se lewens.
“Hy was ’n baie goeie student, altyd behulpsaam en met ’n glimlag op sy gesig. Ons het hom amper in 2023 verloor toe hy ’n beroerte gehad het waarna hy vir twee maande in ’n koma was, maar dit was nie sy tyd nie. Hy was nie ’n kind vir die wêreld nie en ons berus ons daarby dat sy tyd nou wel gekom het.”
Ronaldo was lief vir musiek, veral om te kletsrym, en het onlangs sy eie kletsrymgroep gestig. In ’n huldeblyk van Dysselsdorp Sekondêr sê die skool dat sy heengaan ’n leemte laat wat nie sommer gevul kan word nie. “Sy vriende en onderwysers gaan hom baie mis.”
Wyle Ronaldo van Rooy
Ronaldo laat sy ma, pa, twee sussies en sy ouma agter.
Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’