OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R1 000 is in die Oudtshoorn-landdroshof aan ’n 54-jarige man van Volmoed wat van moord aangekla word, toegestaan.
Robbertson Barnard word daarvan beskuldig dat hy op Saterdag 12 September tydens ’n woordewisseling by die Unieplein-taxistaanplek vir Michael (Micky) Piedt (49) met ’n mes in die bors gesteek het. Piedt is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Barnard se regsverteenwoordiger het in die hof aangedui dat hy onskuldig op die aanklag gaan pleit.
Na ’n konsultasie met die oorledene se familielede, het die staat nie borgtog teengestaan nie. Volgens die staat het die familie geen beswaar gehad teen die toestaan van borgtog nie.
Die hof is ook meegedeel dat Barnard geen vorige veroordelings het nie en ’n vaste werk het.
Landdros Ziastred Deyce het borgtog toegestaan op voorwaarde dat Barnard nie met staatsgetuies kontak maak nie.
Die saak is tot 6 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’