Crusaders het die eerste wedstryd vroeër vanjaar met 33-28 gewen.
Bridgton het rustyd met 11-8 voorgeloop danksy ’n drie wat die slot, Ashley Loff, gaan druk en deur Brain Jonathan (heelagter) verdoel is. Jonathan, wat sy terugkeer tot die eerstespan behoorlik benut het, het ook met ’n strafdoel geslaag.
Bridgton het gesukkel om behoorlik aan die gang te kom. Daar was talle hanteerfoute terwyl die verdediging ook by tye erg gelol het. Soos die keer toe Crusaders se vlugvoetige heelagter, Zololo Payi, van die middellyn af losdeur gehardloop het sonder dat ’n vinger op hom gelê is, vir ’n skitterdrie. Ook die losskakel, Moxolo Banda, het baljaar met die bal in hand.
Crusaders het na rustyd met die een aanval na die ander gekom en is beloon toe Pieter Hector ’n fout van Anver Venter uitgebuit en agter die pale gaan druk het. Dit het Crusaders met 15-11 laat voorloop. Kort hierna het Banda met ‘n maklike strafdoel en ook ‘n lang skepdoel Bridgton se ondersteuners na hul asems laat snak. (21-11).
Maar in die laaste vyftien minute, en veral nadat Algernon Waarts as plaasvervanger agtsteman sy verskyning gemaak het, was daar net een span op die veld.
Bridgton het in die tyd drie keer gaan druk.
Venter het vergoed vir ’n blaps of twee en na ’n sterk lopie langs die kantlyn af agter die pale gaan druk om die agterstand tot 18-21 te laat krimp.
Waarts het kort hierna van ’n skrum naby Crusaders se doellyn met krag ’n pragdrie onder die pale gaan druk om sy span se neus weer voor te kry.
Jaco Manewil (flank) het die kersie op die koek geplaas toe hy soos ‘n warm mes deur botter geglip het vir die deurslaggewende en bonuspuntdrie, wat ook deur Jonathan verdoel is.
“Die span het vandag karakter getoon en ’n slag gewys dat hulle vir 80 minute rugby kan speel,” het Edward Strydom, een van Bridgton se afrigters, na die wedstryd gesê.
Bridgton B het Crusaders se B-span met 20-5 geklop. Lee-Roy Nimrod, Mervin Lingerveldt en Jacques Julies het die span se drie drieë gaan druk. Denzil Barnard het met ’n doelskop en strafdoel geslaag.
Die C-span het ’n oorwinning van 12-0 behaal met Winston Mei en Keano Lucas die driedrukkers. Robert Botha he teen daarvan verdoel.
* Bridgton reis môre na Blanco.

Bridgton se eerstespan het Crusaders Saterdag op die Rec geklop. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'