OUDTSHOORN NUUS - Verskeie rofstoeiers van so vêr as Port-Elizabeth en Kaapstad het Saterdagaand aan die Karoo Rumble-rofstoeitoernooi by die De Jager-sportkompleks mekaar die stryd aangesê.
Sowat 250 luidrugtige toeskouers het dié toernooi bygewoon wat vanaf 19:00 tot 22:00 geduur het. Toegangskaartjies was R60 per persoon en R30 vir kinders.
Vir BBP-kaartjies moes jy R100 opdok.
Die toernooi is deur die organiseerders, Oudtshoorn Wrestling Professionals, as 'n sukses bestempel.
Oudtshoorn se eie bekende rofstoeier, Big Bad Bruce, was die promotor terwyl EDENfm en De Braai Kraal die toernooi geborg het. Die rofstoeiers het deurentyd met hul waaghalsige toertjies die skare na hul asems laat snak.
Rofstoeiers met name soos Jason Sensation, Ed Electric, Freakshow en Ratel het beslis hul name gestand gedoen!
Element (geel broek) steek sy arm uit na die kryt se toue om te voorkom dat hy uitgetel word deur die skeidsregter. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'