OUDTSHOORN NUUS - Die 16-jarige Dirk-Harold Mostert van Oudtshoorn het sy visier op ’n groot sportdroom gerig: om Suid-Afrika op die internasionale skopbokstoneel te verteenwoordig en uiteindelik sy Protea-kleure te verwerf.
Dirk-Harold het reeds gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse span wat Suid-Afrika tydens die Wêreldbeker vir Skopboks in Turkye in April/Mei 2027 sal verteenwoordig.
Daar is egter een groot struikelblok wat tussen hom en dié droom staan, die koste.
Internasionale deelname bring aansienlike uitgawes mee, waarvan ’n groot deel deur die atlete en hul families self gedra moet word.
Dirk-Harold se familie het daarom ’n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om fondse in te samel en hom die geleentheid te gee om sy plek in die Suid-Afrikaanse span in te neem.
Volgens sy familie is dit nie die eerste keer dat Dirk-Harold vir ’n internasionale geleentheid kwalifiseer nie. Hy moes egter vorige geleenthede van die hand wys omdat daar nie genoeg fondse beskikbaar was nie.
Dié jong sportman se liefde vir skopboks strek reeds oor ’n dekade. Hy beoefen die sport sedert hy ses jaar oud is en het reeds ’n junior swart gordel verwerf.
Skandeer die QR-kode vir die BackaBuddy-veldtog
Benewens sy eie opleiding en deelname aan kompetisies, help hy ook sy afrigter met die aanbieding van klasse aan jonger skopboksers.
Sedert hy aan kompetisies begin deelneem het, is dit sy droom om sy nasionale kleure te verwerf. Sy indrukwekkende prestasies sluit drie Suid-Afrikaanse kampioenskapstitels in, asook die titel van Junior SA Champion of Champions vir 2026. In 2024 is hy as junior sportman van die Groter Oudtshoorn-streek aangewys.
Hy is ook in 2024 en 2025 as sy skool se junior sportman vir buitemuurse sport aangewys.
Die geld wat met die veldtog ingesamel word, sal aangewend word om die koste van sy deelname aan die wêreldbeker te dek. Dit sluit onder meer vliegtuigkaartjies, verblyf, etes, inskrywingsfooie, Suid-Afrikaanse nasionale kleure en klere, asook ander onvoorsiene uitgawes in.
Deelname aan die wêreldbeker kan Dirk-Harold ook in ’n posisie plaas om sy Protea-kleure te verwerf - ’n besonderse mylpaal vir die jong Oudtshoornse sportman.
Sy familie doen daarom ’n beroep op die gemeenskap en ander belangstellendes om hom met enige moontlike bydrae te ondersteun. “Ons sal enige en elke bydrae opreg waardeer om Dirk-Harold te help om sy droom te verwesenlik,” sê die familie.
Hulle sê Dirk-Harold is deeglik bewus van die finansiële uitdaging en dat hy dié droom reeds te lank moes uitstel. “Hy sal die eerste wees om elke persoon wat hom help, te bedank en die ondersteuning te waardeer, wetende dat hulle hom gehelp het om sy Protea-kleure te verwerf.”
Die familie werk self hard om fondse in te samel, maar doen ’n beroep op verdere ondersteuning om die finansiële tekort te oorbrug en Dirk-Harold die geleentheid te gee om sy land op die internasionale verhoog te verteenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’