Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Enverino Swartz is die Union Stars-krieketklub se 2018 speler van die seisoen.
Swartz het in die SWD Premierliga-kompetisie 25 paaltjies platgetrek en in die T20-kompetisie 177 lopies aangeteken en nege paaltjies platgetrek.
Micaela Andrews het die trofee ontvang vir beste vrouekolwer en-bouler terwyl Calvin Weyers aangewys is as administrateur van die jaar.
Die klub wat vanjaar sy 125ste bestaansjaar vier, het sy bekeruitdeling Saterdagoggend in die Oudtshoorn Inn gehou waartydens van die klub se oudspelers ook vereer is.
Die klubvoorsitter, Michelle Weyers, het die spelers gelukgewens met nog 'n goeie jaar. Die klub het drie van die vier kompetisies gewen.
“Ons het 'n gesogte klub wat nie nodig het om spelers te koop nie. Dit is spelers uit die gemeenskap en ons is met reg trots op hulle,” het Weyers gesê.
Sy het haar dank teenoor die onderskeie kapteins uitgespreek en bygevoeg dat die klub nie groot borge het nie, maar tog al sy verpligtinge kon nakom.
“Elke speler en beampte se persoonlike bydrae word ontsaglik waardeer,” het sy gesê en die hoop uitgespreek dat die klub in 2019/20 nog meer trofeë sal verower.
Vyf oudspelers van die klub, Robert Swigelaar, Frank Koelman, Vincent Isaacs, Charlton Carelse, Jolan Carelse en Harold Rhodes is ook deur die klub vereer.
Swigelaar, het 'n beroep op jong klublede gedoen om die klub uit te bou en altyd soos ware sportmanne op te tree.
Micaela Andrews, beste vrouekolwer en -bouler ontvang haar trofeë van Mei Jordaan.
Volgens die langslewende lid van die klub, Simon Swigelaar (83), wat al 67 jaar by die klub betrokke is, eers as speler, toe skeidsregter, afrigter en bestuurslid, is die 125-jarige bestaan van die klub 'n besondere prestasie vir 'n sportklub.
“Klubs spring op en na 'n jaar of twee is hulle nie meer daar nie.”
Hy het 'n beroep op klublede gedoen om altyd hul beste te lewer en sy dank vir respek teenoor oudspelers uitgespreek.
Hy het ook die wens uitgespreek dat die Union Stars se ster vir altyd sal blink en skitter.
Die spelers wat Saterdag vir hul prestasies vereer is, is:
A-span
- Beste kolwer; Pieter Stuurman (452 lopies);
- Beste bouler: Enverino Swartz (25 paaltjies)
B-span
- Beste kolwer: Anver Venter (474 lopies);
- Beste bouler: Reagan Rhoode (29 paaltjies).
C-span:
- Beste kolwer: Clifton Olivier (321 lopies);
- Beste bouler: Dillian Moos (19 paaltjies).
Mees belowende speler (Eugene Pele Piedt-wisseltrofee): Yamkila Xakani
Uitblinker van die seisoen: (Simon en Daphne Swigelaar-wisseltrofee): Elridge Booysen
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'