OUDTSHOORN NUUS - Dis amptelik. Tyrese Karelse (18), leerder van Hoërskool Protea, is in die o.19-krieketwêreldbekerspan opgeneem wat volgende jaar in Januarie deur Suid-Afrika aangebied word.
Karelse (kolwer) is ook onlangs in die senior SWD - krieketspan opgeneem waar hy skaflik presteer het.
Hierdie span sal aan die einde van die maand ter voorbereiding van volgende jaar se wêreldbeker teen die huidige o.19-wêreldkampioene, Indië kragte meet. Dié reeks sal opgevolg word deur 'n driehoekige kragmeting tussen Indië, New Zealand en Zimbabwe.
Suid-Afrika se o.19-hoofafrigter, Lawrence Mahatlane, het gesê dat dit 'n taai proses was om dié groep te kies omdat daar soveel talentvolle spelers tot hulle beskikking was.
"Ek is persoonlik trots op hierdie groep en is seker daarvan dat hulle die nasie trots sal maak."
Karelse volg in die voetspore van die SWD-kaptein, Jean du Plessis, wat ook verlede jaar die nasionale o.19-wêreldbekergroep gehaal het wat in Nieu-Seeland gespeel het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'