OUDTSHOORN NUUS - Daar is net geen keer aan Ottniel Baartman se internasionale T20- krieketloopbaan nie.
Baartman, oftewel ‘Dartman’ soos die legendariese kommentator Mike Haysman hom weens sy akkurate boulwerk gedoop het, het soos in die Proteas se eerste wêreldbekerwedstryd, weereens 'n massiewe rol gespeel in hul wedstryde teen Nederland en Bangladesh om steeds onoorwonne in dié toernooi te wees.
Proteas teen Nederland
In Nederland se kolfbeurt het Baartman vier paaltjies laat kantel en slegs 11 lopies afgestaan in sy toegelate vier boulbeurte. Drie van sy paaltjies het ‘Dartman’ in sy laaste boulbeurt ingeoes waar hy slegs een lopie afgestaan het. Nederland het eerste gekolf en 103 lopies vir die verlies van nege paaltjies afgestaan in hul toegelate 20 boulbeurte.
David Miller brul van pure plesier.
Normaalweg sou hierdie telling as maklik bereikbaar gereken word, maar die kolfblaai in Amerika, waar sommige van die wedstryde gespeel word, is ontsettend geskik vir boulwerk wat beteken kolwers moet dubbel so hard werk vir hul lopies - in skrille kontras met die internasionale kultuur van T20- krieket waar lopies soos water vloei van die kolf af.
Die Proteas se kolfbeurt het nie te waffers begin nie met hul toporde Reeza Hendricks (3), Quinton de Kock (0) en Aiden Markram (0) wat gesteier het teen briljante boulwerk van Nederland. Tristan Stubbs (33) tesame met die speler van die wedstryd, David Miller (59), het egter die kastaiings uit die vuur gekrap en die Proteas se skip met slegs ses balle oor in hul kolfbeurt, na veilige waters gestuur.
Proteas teen Bangladesh
Ofskoon Baartman geen paaltjies teen Bangladesh kon inpalm nie, en met boulsyfers van vier boulbeurte vir 27 lopies geëindig het, was sy laaste boulbeurt instrumenteel om die draaibal-bouler, Keshav Maharaj, 11 lopies te gee in die laaste boulbeurt om te verdedig. Maharaj het in die laaste boulbeurt van die wedstryd een wydloper en drie vol-balle geboul wat Bangladesh, wonder bo wonder, nie kon moker na die grens nie. Bangladesh het uiteindelik ses lopies gekort met die laaste bal, maar kon slegs twee lopies hardloop wat aan die Proteas 'n oorwinning van vier lopies besorg het. Die Proteas beklee na drie wedstryde in groep D die topposisie met ses punte. Hul volgende wedstryd is 15 Junie teen Nepal.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’