OUDTSHOORN NUUS - Die ASWD en Eden-atletiekkampioenskappe vir hoërskole wat die naweek in Oudtshoorn plaasgevind het, het goeie resultate gelewer.
Atlete van regoor die streek het in verskeie baan- en velditems meegeding.
Meer as 40 atlete van Oudtshoorn het vir die Eden-span gekwalifiseer en sal op 14 en 15 Maart aan die Wes-Kaapse kampioenskappe in Groenpunt, Kaapstad deelneem.
ASWD het ook vanjaar probeer om die standaard van die kampioenskappe te lig deur medaljes en elektroniese tyd teen groot kostes te bekom.
Die elektroniese tydhouer het egter tydens een van die baanitems onklaar geraak en verskeie navrae is gerig oor die kredietwaardigheid van die atlete se tye.
Volgens Jannie Nel van Eden Athlete Management Services (EAMS) was die elektroniese tyd "ongelukkig nie op standaard nie".
"Ons kon nie die tye as kredietwaardig beskou nie. Ons is baie dankbaar dat Ettiene (van SprintTimer) sy hybrid tye aan ons beskikbaar gestel het sodat ek Sondag alle baan uitslae se tye kon hersien. Danksy die werk van Prestige Athletics SprintTimer en Eden Athlete Management Services kan die kampioenskappe se uitslae as kredietwaardig aanvaar word."
Die kampioenskappe het reeds Woensdag in George afgeskop met paalspring en hamergooi, waarna die kompetisie Vrydag en Saterdag na die De Jager-sportkompleks in Oudtshoorn verskuif het.
Hoewel hierdie byeenkoms vir hoërskoolatlete was, het die veteraan- en meestersatelete ook deelgeneem. Johann Coetzer het aan die 100 m M65+ deelgeneem en beide sy SWD-rekords verbeter. Sy tyd op die 100 m was 14:12 sekondes en sy vorige rekord was 14:60 sekondes. Sy tyd in die 200 m was 30:32 sekondes en die ou rekord van 29 jaar was 30:64 sekondes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’