OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Wesbank se vierde jaarlikse tennistoernooi het Saterdag 10 Oktober plaasgevind en 15 spanne met altesaam 60 spelers op die tennisbaan byeengebring.
Laerskole Vorentoe, Handhaaf, Stulting en Gene Louw, asook Glenwood House School het aan die toernooi deelgeneem. Die spelers kon hul vaardighede op die baan ten toon stel en het puik spel gelewer.
Laerskool Gene Louw het besonder goed gevaar en die eerste plekke in beide die seuns- en meisiesafdelings behaal.
In die seunsafdeling het Laerskool Gene Louw se A-span eerste geëindig, gevolg deur Laerskool Wesbank se A-span en Laerskool Gene Louw se B-span.
In die meisiesafdeling het Laerskool Gene Louw se A-span ook met die louere weggestap. Laerskool Wesbank se A-span het tweede geëindig en Laerskool Handhaaf derde.
Laerskool Wesbank het sy dank uitgespreek teenoor al die deelnemende skole, asook die borge wie se ondersteuning en bydraes gehelp het om die toernooi moontlik te maak.
Hulle het ook Ilse Jordan en Chrisna Terblanche bedank vir die ontwerp en moeite met die spesiale Versus-sokkies wat aan al die deelnemers en spanbestuurders oorhandig is.
Laerskool Wesbank se meisies A-span, Alta Kroukamp, Leané Janse van Rensburg, Isabella Bekker en Nika Odendaal. Foto: Laerskool Wesbank
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’