ABERDEEN NUUS - Die 23-jarige Elzandro Koopman van Aberdeen het sy droom verwesenlik met die publikasie van sy boek, Skadu’s oor Aberdeen 6270, ’n spanningsvolle verhaal gehul in misterie wat in sy tuisdorp afspeel.
Koopman, wat op 25 Oktober 2002 in Aberdeen gebore is, het sy skoolloopbaan by Kamdeboo Primêre Skool begin voordat hy Aberdeen Sekondêre Skool bygewoon het. Hy moes egter weens persoonlike omstandighede in gr. 11 die skool verlaat.
In 2024 het hy by Eastcape Midlands TVET College ingeskryf om sy matriek te voltooi. Hy is tans in sy finale jaar in kantooradministrasie.
Koopman sê sy ma, broers en vriende het ’n groot invloed op sy lewe gehad en hom deur moeilike tye gemotiveer om nie sy drome prys te gee nie.
Hy is die oudste van drie seuns wat deur ’n enkelouer grootgemaak is. Nadat sy in 2015 by Camdeboo Hospice gewerk het, het sy later plaaslik by die Gemeenskapswerkprogram (CWP) en as tydelike huiswerker gewerk.
In 2022 het sy na die Kaapstad-omgewing verhuis om as huiswerker te werk, ’n pos wat sy steeds beklee om in haar gesin se behoeftes te voorsien.
“As kinders het ons nie altyd die beste gehad nie, maar my ma het alles in haar vermoë gedoen om ons te versorg en seker te maak dat ons gelukkig is. Haar opoffering en vasberadenheid is vir my ’n groot inspirasie,” sê Koopman.
Geheime onder die oppervlak
Skadu’s oor Aberdeen 6270 speel af in die rustige Karoodorp waar die hoofkarakter, Ruan, afkom op ou dokumente en ’n geheimsinnige dagboek wat gebeure wat dekades lank verborge gebly het, na vore bring.
Die ou kerk, die geskiedenis rondom Marlene Jacobs en Hendrik van Zyl, asook die geheimsinnige Orde van die Ses, vorm deel van die groter raaisel wat Ruan probeer ontrafel.
Hoe dieper hy in die verlede begin delf, hoe meer besef hy dat die geheime van Aberdeen nie bloot stories uit die verlede is nie. Sommige geheime het steeds gevolge vir die mense van die hede.
Volgens Koopman kombineer die verhaal misterie, spanning, geskiedenis en emosie teen die agtergrond van ’n klein Karoodorp. Hy wil daarmee wys dat selfs ’n plek soos Aberdeen stories kan huisves wat veel groter is as wat ’n mens aanvanklik sou verwag.
Drome vir die toekoms
Koopman beplan om sy skryfwerk verder te ontwikkel en nog boeke te publiseer. Sy droom is om ’n versameling verhale op te bou wat lesers sal boei en ’n blywende indruk sal laat.
Hy hoop ook om, nadat hy sy studies voltooi het, universiteit toe te gaan om ’n graad in onderwys te verwerf. Dit is ’n droom wat hy reeds sedert sy kinderjare koester.
Nog ’n belangrike doelwit is om eendag finansieel na sy ma en broers te kan omsien en iets terug te gee vir alles wat sy ma vir hulle opgeoffer het.
Koopman wil self by die bemarking van sy boek betrokke wees en beplan om sosiale media, WhatsApp-gemeenskappe, persoonlike verwysings van lesers en plaaslike gemeenskapsplatforms te gebruik om ’n groter leserspubliek te bereik.
'n Droom is vir Elzandro Koopman verwesenlik met die publikasie van sy eerste boek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’