OUDTSHOORN NUUS - Musiekliefhebbers kan Woensdag 21 Oktober uitsien na ’n besonderse koorervaring wanneer die internasionale Essener Domsingknaben van Duitsland en Langenhoven Gimnasium se Gimmie-koor saam in die St. Saviour-katedraal in Oudtshoorn optree.
Die opvoering, Katedraalklanke, bring twee kore met uiteenlopende agtergronde byeen vir ’n aand van koormusiek.
Die Essener Domsingknaben, oftewel die Essen-katedraal se seunskoor, is in 1961 gestig en het tans sowat 140 lede van verskillende ouderdomme en opleidingsvlakke. Die koor tree ook nasionaal en internasionaal op en verteenwoordig die Duitse stad Essen as musikale ambassadeur.
Hul repertoire strek van vokale werke uit die Renaissance- en Baroktydperke tot klassieke, romantiese en kontemporêre komposisies. Die koor staan onder leiding van Harald Martini, katedraalkantor, wat self sy musikale opleiding as lid van dié koor begin het.
’n Groeiende musikale reis
Vir die Gimmie-koor, wat in 2024 gestig is en onder leiding van Retha van Zyl staan, is die konsert nog ’n belangrike mylpaal in ’n kort, maar indrukwekkende musikale reis.
Baie lede van die Gimmie-koor is ook lede van die Suid-Kaapse Jeugkoor, wat in Mei vanjaar tydens ’n Eurotoer in die Essen-katedraal in Duitsland opgetree het. Die koorlede is hartlik deur die ouers van die Essener Domsingknaben verwelkom en by hul huise gehuisves.
Twee gemeentelede van die St. Saviour-katedraal was ook deel van hierdie besonderse ervaring.
Sedert sy stigting het die Gimmie-koor aan verskeie belangrike optredes deelgeneem. Kort ná die koor se ontstaan is hulle genooi om aan die Koorviering-Netwerkstigting (CCNF) se Udumo-massakoornaweek deel te neem.
In September 2025 het die koor saam met die Universiteit Stellenbosch se Kamerkoor, onder leiding van dr. Martin Berger en Lunathi Ncamani, in ’n konsert by die St. Saviour-katedraal opgetree.
Die koor het ook ’n A+++ (95%) by die Nasionale Eisteddfod-akademie behaal en ’n B+ in sy eerste internasionale eksamen deur die Associated Board of the Royal Schools of Music (ABRSM) ontvang.
Daarbenewens is die Gimmie-koor deur Berger genooi om saam met die internasionaal bekroonde Stellenbosch Universiteitskoor te sing en in 2027 aan die Tygerberg Internasionale Eisteddfod deel te neem.
Die komende konsert bied dus aan plaaslike gehore die geleentheid om die talent van dié jong Oudtshoornse sangers saam met dié van ’n gevestigde Duitse seunskoor te beleef.
Katedraalklanke vind op Woensdag 21 Oktober om 18:00 in die St. Saviour-katedraal plaas. Kaartjies sal by die deur beskikbaar wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’