DE RUST NUUS - Vier persone sal na verwagting vandag, 12 Oktober, in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn nadat 90 kg dagga op Saterdag 10 Oktober in De Rust gevind is.
Volgens polisiewoordvoerder Wesley Twigg is drie mans en ’n vrou tussen die ouderdomme van 37 en 46 op ’n aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem.
“Lede van die De Rust-polisie het inligting ontvang oor ’n voertuig wat na bewering dagga vervoer het. Die polisie het ook ’n beskrywing van die voertuig ontvang. Die lede het die voertuig opgemerk en afgetrek, en dit deursoek,” het Twigg gesê.
Swart vullissakke vol dagga is glo in die voertuig gevind. Die dagga se beraamde straatwaarde beloop ongeveer R720 000.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’