Video
OUDTSHOORN NUUS - Die bekende plaaslike parapleegfietsryer Vusi Marenene (44) gaan saam met Bidii Yetu en die Botswana Raad vir Gestremdes 'n fietsrit van 1 000 km deur Botswana onderneem om inklusiewe sport te bevorder.
Die groep pak dié uitdaging van 24 Okto-ber tot 7 November aan.
Die tog begin in Gaborone, Botswana se hoofstad in die suide van die land, en eindig by die land se noordelike grens met Zambië.
Die groep sal onderweg by dorpe en nedersettings aandoen om mense bewus te maak van die voordele van aangepaste sport vir almal, en groter insluiting van persone met gestremdhede by alledaagse sport- en ontspanningsaktiwiteite te bevorder.
"Bidii Yetu en die Botswana Raad vir Gestremdes beoog om vanjaar 'n gesamentlike fietsrit te organiseer om te demonstreer hoe fietsrygeleenthede waaraan beide fietsryers met gestremdhede en niegestremde fietsryers kan deelneem, inklusiwiteit kan bevorder," verduidelik Marenene.
Volgens hom sal die twee weke lange tog ander uitdagings bied as die Bidii Yetu-fietsrit van Namibië na Mosambiek in 2023.
"Ons gaan 'n groter groep saamneem, wat meer beplanning en 'n groter ondersteuningspan sal verg. Ons wil dié ervaring gebruik om 'n model te ontwikkel wat organisasies vir persone met gestremdhede en fietsryklubs regoor Afrika kan gebruik om soortgelyke inklusiewe fietsrygeleenthede in die toekoms aan te bied," sê hy.
Marenene se oefenmaat, Attie Conradie, wat ook 'n kwadrupleeg is, sal hom op die tog vergesel.
VIDEO:
Marenene, wat bekend is vir sy dissipline, deursettingsvermoë en lewenslus, oefen al langer as 'n jaar terwyl hy sy droom nastreef om aan die 2028 Paralimpiese Spele in Los Angeles deel te neem.
"Fietsry was nog altyd 'n integrale deel van my lewe. Ondanks die uitdagings waarvoor ek te staan kom, bly dit 'n passie waarvan ek nie afstand doen nie," sê hy.
Lootjies te koop
Marenene het 'n skaap as skenking ontvang wat hy wil uitloot om fondse vir die reis in te samel. Lootjies kos R50 elk. Belangstellendes kan Marenene by 073 807 9674 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’