DYSSELSDORP NUUS - Liluth Sharon van Rooyen, ANC-raadslid in Dysselsdorp, dien haar tweede termyn as wyksraadslid en beskryf haarself as 'n gemeenskapsmens wat glo in diensbaarheid, respek en die vermoë om 'n positiewe verskil in ander se lewens te maak.
As deel van die groter Oudtshoorn-gemeenskap beskou sy dit as 'n voorreg om inwoners te kan dien en hul belange te verteenwoordig.
Van Rooyen geniet dit om in haar vrye tyd saam met familie en vriende te kuier. Sy hou ook daarvan om met mense te gesels en by gemeenskapsaktiwiteite betrokke te wees. Haar familie en vriende beskryf haar as 'n barmhartige mens wat toeganklik is en altyd bereid is om ander te help.
"My grootste motivering om as raadslid te staan was my liefde vir mense en my begeerte om 'n verskil in my gemeenskap te maak. Ek glo dat plaaslike regering 'n belangrike rol speel in die verbetering van mense se lewensomstandighede. Ek wou deel van die proses wees om inwoners se stemme te verteenwoordig, hul bekommernisse onder die aandag van die munisipaliteit te bring en oplossings vir gemeenskapsuitdagings te help vind."
Van Rooyen se verantwoordelikhede sluit in om met inwoners te skakel, probleme aan te meld, diensleweringskwessies op te volg en saam met die betrokke munisipale departemente na oplossings te soek.
"Ek wil fokus op dienslewering, infrastruktuurinstandhouding, die behoeftes van senior burgers, jeugontwikkeling en die algemene welstand van gemeenskappe. Ek glo dat inwoners se probleme ernstig opgeneem moet word en dat daar voortdurend gewerk moet word om hul lewensomstandighede te verbeter."
Haar doel is om 'n sigbare, toeganklike en betrokke raadslid te wees en te help bou aan gemeenskappe waar almal met waardigheid en respek behandel word.
Van Rooyen beklemtoon egter dat sy nie elke probleem oornag kan oplos nie, maar sy onderneem wel om te luister, probleme op te volg en haar bes te doen om 'n verskil te maak. "Ek wil hê inwoners moet weet dat ek ook net 'n mens is wat omgee vir my gemeenskap," sê sy.
Sy moedig inwoners aan om haar by 083 880 6761 te skakel of WhatsApp, of haar persoonlik te kom sien, met probleme, bekommernisse of voorstelle. Sy sê haar deur staan oop vir die gemeenskap.
"Ware leierskap gaan nie net oor 'n posisie nie, maar oor diensbaarheid aan die mense."
Oudtshoorn Courant stel weekliks 'n nuwe raadslid aan inwoners bekend. Die profiele verskyn nie in 'n bepaalde volgorde nie, maar word gepubliseer namate raadslede op die koerant se versoek reageer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’