OUDTSHOORN NUUS - Die hooggeregshof in George het verlede Vrydag beslis dat Walter Hendricks se ontslag as waarnemende munisipale bestuurder onwettig was.
Hierdie verwikkelinge volg nadat 13 raadslede (ANC, PA, Saamstaan, OGI, Good, Advieskantoor) op 22 April 'n suksesvolle dringende mosie ter tafel gelê het om Hendricks van sy pos te onthef.
Volgens die hofdokumente word die Oudtshoorn-munisipaliteit gelas om Hendricks onmiddellik toe te laat om sy pligte as munisipale bestuurder voort te sit soos per sy indiensnemingsooreenkoms wat op 3 Januarie 2022 gesluit is.
Hendricks was ten tyde van die raadsvergadering uitstedig met munisipale pligte. Sy afdanking is glo onwettig omdat hy nie 'n kans gegun is om sy kant van die saak te stel nie.
Die munisipaliteit en alle partye betrokke moet nou op 10 Junie redes aan die hooggeregshof verskaf waarom hy nie verantwoordelik gehou moet word vir Hendricks se regskoste nie; asook waarom die hooggeregshof se besluit om Hendricks in sy munisipale bestuurdersposisie her aan te stel, nie finaal gemaak moet word nie.
Hendricks se omstrede aanstelling as munisipale bestuurder is in Januarie deur FASO (The Forum of Anti-corruption and Service Delivery Oudtshoorn) veroordeel omdat Hendricks tans kriminele klagtes vir tenderbedrog en korrupsie in die gesig staar toe hy in diens van George-munisipaliteit was.
Die onderburgemeester, Vlancio Donson (Icosa), is ook tydens dieselfde raadsvergadering via 'n mosie van wantroue uit sy pos verwyder.
Donson het toe reeds gewaarsku dat die prosesse wat gevolg is om van hom en Hendricks ontslae te raak, onwettig is en dat hy, soos in Hendricks se geval, ook 'n goeie kans staan om dit nietig te laat verklaar in die hooggeregshof.
Donson het egter vandeesweek steeds voet by stuk gehou dat hy ter wille van harmonie en dienslewering nie dié roete sal volg nie.
Die nuwe onderburgemeester sal nou op 5 Mei (vandag) tydens 'n spesiale raadsvergadering verkies word.
Alle ander mosies sal ook tot dan oorstaan.
Die moontlikheid dat 'n nuwe speaker en selfs 'n nuwe burge-meester dan verkies kan word, kan nie uitgesluit word nie, met veral Colan Sylvester (OGI), Suzane Jansen (PA) en Leon Campher (Advieskantoor) wie se name glo bo aan die lys is.
Intussen is Jan Publiek dit eens dat die munisipaliteit onbeholpe deur hul regsamptenare geadviseer is om Hendricks via 'n mosie te verwyder omdat die belastingbetaler nou moet opdok indien die hooggeregshof op 10 Junie besluit dat die munisipaliteit Hendricks se regskoste sal moet dra - geld wat vir dienslewering aangewend kon word.
Die algemene sentiment is dat die 13 raadslede verantwoordelik, direk aanspreeklik gehou moet word vir dié potensiële duur flater.
Hendriks is sedert September verlede jaar in sy pos vir drie maande aangestel, waarna sy kontrak in Januarie weereens deur die raad verleng is; dié keer volgens Donson, totdat 'n nuwe munisipale bestuurder aangewys word.
Volgens Donson is die wetgewing wat bepaal dat 'n waarnemende munisipale bestuurder slegs vir 'n tydperk van drie maande mag waarneem, nie meer van toepassing nie, en daarom het die raad in Januarie ooreengekom dat Hendricks onbepaald, tesame met die publiek, weer vir die pos moet heraansoek doen.
Volgens Donson is die advertensie vir die munisipale bestuurder se pos reeds sowat 'n maand gelede deur die munisipaliteit geplaas en aansoeke het onlangs gesluit.
Die proses om 'n nuwe munisipale bestuurder aan te stel, kan glo tussen een of twee maande duur.
Vorige artikels:
- Hendricks se ontslag onwettig
- Donson en Hendricks uit
- Donson uitgestem as Onderburgemeester
- Gerald de Jager nuwe munisipale bestuurder
Links is die huidige burgemeester, Chad Louw, en speaker, Sonia Bentley. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'