Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO'S - Vaquita II is waterdig en gereed om om die wêreld te vaar.
Neels Terblanche van Oudtshoorn het die afgelope week sy trapboot na Raubeheimerdam geneem om tyd op die boot te spandeer sodat hy homself gereed kan maak vir enige situasie wat mag ontstaan.
Terblanche deel tans sy ervaring met Oudtshoorn Courant deur videos wat hy tydens die proses maak en stuur.
Volgens hom het die toets op die Rauben-heimerdam goed verloop, maar het hy besef dat die Vaquita II binne baie warm raak en beweegruimte is min, wat beteken hy moet alles hande viervoet doen.
"Ek het twee 12 volt waaiers op die boot, maar dit was steeds warm, ek kon die luike oopmaak op die dam, maar as ek op die see is gaan ek dit glad nie kan doen nie weens golwe en seetoestande. Die seewater is ook baie warm naby die ewenaar waar ek meeste gaan wees, so dit gaan 'n groot aanpassing wees."
Terblanche sal ook sy dieet goed moet monitor om toe te sien dat hy reg eet en gehidreer bly. Weens die kondensasie binne die boot is alles basies heeltyd klam.
"Ek het op die dam uit die Vaquita II geklim, maar dit is onmoontlik om terug te kom op die boot, ek het twee traplere gehad en dit was steeds bitter moeilik, so ek sal 'n ander plan moet bewerkstellig om dit aan te spreek."
Met die toets het hy uitgevind hoe moeilik dit is om die heeltyd gebukkend en hande viervoet te lewe. "Ek is vol bloukolle na die week op die boot."
VIDEO
Hy moet selfs na iets eenvoudig kyk soos die onderklere wat hy dra, want om ses ure in een posisie te sit veroorsaak pyn op drukpunte. Hy sal dus moet kyk na klere wat naatloos is, en ook van materiaal soos bamboes vervaardig is.
Hy het ook besef hy sal 'n wasgoedlyn binne die Vaquita II moet installeer om toe te sien dat hy altyd skoon en droë klere sal hê.
"Ek het uitgewerk ek sal minstens vier keer per dag my klere moet vervang weens die klammigheid en kondensasie binne die boot."
Hy het ook die boot se skroewe getoets wat tans 18.8 hoë spoed skroewe is. "Ek het dit reggekry om teen 4½ km per uur te vaar met vol simulasie."
Die boot gaan nou terug Stompdriftdam toe waar verdere toetse aan die trapboot gedoen gaan word.
"Hierdie was 'n goeie oefensessie en leerskool vir wat op my wag. Alles in die boot is moeite en kos ongelooflik baie deursettingsvermoë."
VIDEO
Vertrekdatum
Hy vertrek op 30 September uit die Kaapstad-hawe om die eerste mens te word om manalleen om die wêreld te vaar. Terblanche gaan poog om die wêreldrekord te haal met sy ekspedisie, asook om geld in te samel vir die Mannatec 5 Million-projek vir ondervoede kinders, Operation Smile Suid-Afrika, asook en om Vusi Marenene se paralimpiese droom te verwesenlik.
Terselfdertyd wil hy ook bewusmaking skep vir die Vaquita-tornyne, 'n krities bedreigde tornyn wat slegs in die Golf van Kalifornië, in Mexiko aangetref word.
Dit is die kleinste tornyn-spesie ter wêreld, met volwassenes wat tipies minder as vyf voet lank is en minder as 55 kg weeg. Hul word ernstig bedreig weens 'n kombinasie van faktore, insluitend vangste in visnette, onwettige visvangaktiwiteite en habitatvernietiging.
Tans is daar ongeveer net 10 Vaquita-tornyne oor in die oseaan volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN).
Vaquita II spesifikasies
Die trapboot het 'n droë gewig van 450 kg en 'n nat gewig en wanneer gelaai van 1 500 kg. Die boot is gerib vir stabiliteit en is een van slegs drie seepedaalbote wat bestaan. Sy het 'n stadige roterende skroef met sagte lemme om die risiko om seelewe te benadeel, te verminder.
Die Vaquita II het 'n lae sleur-ontwerp, beide lug en water en beskik ook oor selfregstellende vermoëns. Die gebruik van 'n vlak skuurdeurtipe roer is ook 'n slim ontwerpkeuse, want dit sal help om die boot maklik in windafwaartse passaatwindtoestande te bestuur.
Dit kan veral belangrik wees wanneer jy in oop water werk of in toestande waar wind en golwe onvoorspelbaar kan wees.
Raak betrokke
Maatskappye en persone wat wil betrokke raak by die unieke ekspedisie en sodoende nasionale, asook internasionale blootstelling wil bekom is welkom om Terblanche te kontak by 083 727 2908.
Volg die ekspedisie by https://sea-battical.co.za/ of skandeer die kode by die berig.
Vorige artikels:
- Vaquita II op die water
- Vaquita II vaar nou in September aanstaande jaar
- Vaquita II, meer as net 'n boot
- Seerower gevaar verander Vaquita se ekspedisie
- Fiksheid prioriteit vir ekspedisie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’