OUDTSHOORN NUUS - Neels Terblanche (59) van Oudtshoorn is op 'n missie om die eerste persoon te wees wat manalleen, in sy trapboot, die Vaquita II, Afrika te omseil. 'n Reis van 28 000 kilometer, oor sewe oseane in waters wat bekend is vir seerowers in dié Oos-Afrika kusgebied. 'n Ekspedisie wat twee jaar sal neem om te voltooi en aan hom die wêreldrekord kan besorg.
In sy blog verduidelik hy dat talle individue uitsonderlike ekspedisies, met verskeie vervoermiddels oor die Afrika-kontinent onderneem het. Sommige het met Land Rover-voertuie die hele lengte van die vasteland te deurkruis, terwyl ander op fietse Afrika omseil het.
Ongeveer 300 persone het suksesvol oor die Atlantiese, Stille- en Indiese oseane in roeibote geroei. Maar niemand het tot op datum die hele kontinent van Afrika in 'n trapboot omseil nie. Met agt jaar se beplanning beoog hy om op 20 Desember uit Kaapstad-hawe te vaar.
Fietsry om fiks te raak
So 'n uitdagende ekspedisie per trapboot benodig fiksheid. Ter voorbereiding, het hy en sy vriend, Vusi Marenene, reeds heelwat kilometers saam afgelê. In gesprek met Oudtshoorn Courant noem Terblanche dat hulle reeds vanaf Mosselbaai na Hermanus getrap het en beplan 'n tweede fietstoer binnekort vanaf Hermanus na Oudtshoorn.
Terblanche op sy bergfiets en Marenene op sy handfiets wat spesiaal vir parapleë bedoel is. Marenene het onlangs teruggekeer van 'n ekspedisie oor Afrika as lid van die Biddi Yetu-groep wat meer as 2 000 kilometers getrap het in die langste handfietsrybyeenkoms ter wêreld wat vyf lande in Suidelike Afrika van Swakopmund in Namibië tot in Maputo in Mosambiek strek. Marenene mik na die Paralimpiese Spele in 2028 in Los Angeles, Amerika.
Meer as net 'n ekspedisie
Buiten die uitdaging self is daar meer agter die ekspedisie. Terblanche poog om R1 miljoen in te samel vir die Mannatec 5 Million-projek vir ondervoede kinders, fondse vir Operation Smile Suid-Afrika, asook fondse om Marenene se paralimpiese droom te verwesenlik. Terselfdertyd wil hy ook bewusmaking skep vir die Vaquita-tornyne, 'n krities bedreigde tornyn wat slegs in die Golf van Kalifornië, in Mexiko aangetref word. Dit is die kleinste tornyn-spesie ter wêreld, met volwassenes wat tipies minder as vyf voet lank is en minder as 55 kg weeg. Hul word ernstig bedreig weens 'n kombinasie van faktore, insluitend vangste in visnette, onwettige visvangaktiwiteite en habitatvernietiging. Tans is daar ongeveer net 10 Vaquita-tornyne oor in die oseaan volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN).
Raak betrokke
Maatskappye en persone wat wil betrokke raak by die unieke ekspedisie en sodoende nasionale, asook internasionale blootstelling wil bekom is welkom om Terblanche te kontak by 083 727 2908.
Volg die ekspedisie by https://sea-battical.co.za/
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’