OUDTSHOORN NUUS - Neels Terblanche (59), wat op 'n missie is om die eerste persoon te wees wat manalleen, in sy trapboot, die Vaquita II, om die wêreld te vaar moes weereens sy planne verander.
In gesprek met Terblanche verduidelik hy dat weens onder andere regulasies wat in die Suez-kanaal verander het sy vertrektyd na 30 September aanstaande jaar verskuif om uit Kaapstad hawe te vertrek.
"Hul vereis onder andere dat ek 'n kaptein van die kanaal op die boot moet toelaat, maar ek kan nie want dan kan ek nie die wêreldrekord breek nie, want dan is ek nie alleen op die boot nie, so ek het geweier."
"Tweedens vereis hulle 'n buiteboord petrol enjin, maar dit is teenstrydig met my 'Carbon Net Zero' missie."
Hy moes reeds noodgedwonne sy roete verander wat hy aanvanklik om Afrika sou aanpak weens die gevare van seerowers in die Rooisee en die Houthi 'militia' in die Golf van Aden. Volgens hom het hy intussen inligting ontvang dat selfs die Nylrivier nie 'n goeie idee is nie.
"Buiten die militia is dit orkaantyd van Mei tot Julie in die Atlantiese oseaan wat ek wil vermy, asook die erge noordweste winde wat in in ons winter maande voorkom wat dan reg van voor sal wees vir 6 000 km."
Volgens hom sal hy waarskynlik nou in vyf jaar in plaas van twee jaar sy vaart voltooi wat beteken dat die ekspedisie nou 45 000 km gaan behels.
Nuwe roete
Sy nuwe roete sien nou as volg daarna uit: Hy beoog om uit Kaapstad te vertrek na St. Helena-eiland, gevolg deur Ascension-eiland waarna hy die Atlantiese oseaan sal oorsteek om Ilha Fernando de Noronha, net oos van Brasilië te bereik.
Dié deel van die vaart kan tot vyf maande duur. Van daar gaan hy na Barbados trap, gevolg deur Aruba om uiteindelik Colon die ingang van die Panamakanaal te bereik.
Nadat hy deur die Panamakanaal is sal hy in Panamastad sy voedsel aanvul voordat hy die lang vaart oor die uitgestrekte Stille oseaan, 'n stuk van ongeveer 8 000 km aanpak.
"My volgende groot stop sal hopelik Auckland, Nieu-Seeland wees, waar ek my seun Jean sal kan besoek. Die reis sal van daar af voortgaan na Cairns, Darwin en Exmouth, Australië. Vanaf Exmouth sal die Indiese Oseaan na die Seychelle oorsteek, dan na die Comore gaan en uiteindelik in Durban uitkom. Die laaste been sal ek langs die Suid-Afrikaanse kus terug trap na Kaapstad, vyf jaar na my vertrek op 30 Junie."
Baie om aan aandag te gee
Terblanche vertel dat daar ongelooflik baie dinge is wat mens in ag moet neem vir so 'n vaart. Buiten dat sy trapboot heeltemal uniek is sal hy gewoond moet raak dat alles op en in die boot basies heeltyd nat gaan wees.
"Ek sal letterlik in 'n klam bed moet slaap en hoop ek raak nie siek nie." Tans is hy dringend op soek na enige maatskappy wat sal belangstel in nasionale en internasionale publisiteit om 'n klein 20L, 12V kampyskassie in die Vaquita II te installeer.
"Almal met wie ek al gepraat het, wat sulke avonture aangepak het noem dat die enigste ding wat hul werklik nodig gehad het was iets koud om te drink omdat alles so warm is by die ewenaar, so ek het besluit ek sal die eerste een wees wat 'n yskas op my trapboot sal hê sodat ek altyd koue water of koeldrank het om te drink en om vis langer te kan bewaar. Onthou die Vaquita II is nie 'n oop trapboot nie so ek gaan letterlik binne in die hitte sit aangesien die boot nie werklik ventilasie het nie en ek kan nie die luike oopmaak nie."
Hy gaan elke dag 'n roetine hê waar ek heeldag en nag vir twee ure trap en een uur rus en dan weer twee ure trap en rus. "Ek sal gewoond moet raak daaraan want ek kan nie net gaan slaap nie." Hy moet ook seestrome, die weer, ander skepe en vaartuie in ag neem."
"Ek het gelukkig drie persone wat daagliks om 06:00 en 18:00 vir my die nuutste weervoorspellings gaan stuur sodat ek altyd weet wat om te verwag. Ek kan ook op my instrumente op die boot sien indien daar enige vaartuie en skepe in die skeepsbane is. Ek sal nie uit 'n groot skip of vaartuig se pad kan beweeg nie so kommunikasie gaan van kardinale belang wees. Ek sal kontak moet maak met die skepe en vaartuie en waarsku dat ons in mekaar se baan vaar, hul sal dus hul rigting moet verander want die Vaquita II sal nie vinnig genoeg uit so 'n groot skip se pad kan beweeg nie."
Hy moet ook in ag neem wat hy alles op die trapboot saamneem aangesien hy beperkte spasie het.
"Ek kan nie regop in die Vaquita II staan nie so ek gaan dus letterlik op my knieë en hande viervoet moet beweeg."
Hy het intussen homself begin voorberei vir enige noodsituasie deur verskeie scenarios te simuleer.
"As ek ewe skielik in donkerte is sal ek moet weet hoe en wat om te doen en waar wat op die boot is."
Hierdie reis is nie net 'n toets van uithouvermoë en vasberadenheid nie, maar ook 'n geleentheid om ander te inspireer om hul drome na te streef. Met noukeurige beplanning, onwrikbare vasberadenheid en 'n verbintenis tot volhoubaarheid, is ek gereed om die uitdagings wat voorlê te navigeer."
Persone wat sy vaart gaan volg sal via 360 'live streaming' daagliks op hoogte gehou word van sy vordering. "'n Koreaanse maatskappy, Labpano het die toerusting aan my geskenk so ek is nogal opgewonde daaroor. Dit sal dit moontlik maak dat mense letterlik by my kan aansluit terwyl ek die merkwaardige avontuur aanpak en die grense verskuif van wat moontlik is in 'n mensgedrewe ekspedisie."
Meer agter ekspedisie
Buiten die uitdaging self is daar meer agter die ekspedisie. Terblanche poog om R1 miljoen in te samel vir die Mannatec 5 Million-projek vir ondervoede kinders, fondse vir Operation Smile Suid-Afrika, asook fondse om Vusi Marenene se paralimpiese droom te verwesenlik. Terselfdertyd wil hy ook bewusmaking skep vir die Vaquita-tornyne, 'n krities bedreigde tornyn.
Vorige artikels:
- Vaquita II, meer as net 'n boot
- Seerower gevaar verander Vaquita se ekspedisie
- Fiksheid prioriteit vir ekspedisie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’