Update
OUDTSHOORN NUUS - Neels Terblanche (59) van Oudtshoorn wat op 20 Desember uit Kaapstad hawe gaan vaar met sy trapboot, die Vaquita II in 'n poging om 'n wêreldrekord te breek vir die eerste persoon wat manalleen om Afrika te seil het nou noodgedwonne sy roete verander weens die gevare van seerowers in die Rooisee en die Houthi “militia” in die Golf van Aden.
Hy is tans deurentyd in kontak met die Suid-Afrikaanse regering, hawe outoriteite, asook 'n sekuriteitsmaatskappy in Djibouti wat sy reis sal volg om te verseker hy is veilig. Hy vertel dat seerowers deesdae nie werklik omgee wat op 'n boot is nie en gebruik hul hommeltuie om bote aan te val en persone op die bote gyselaar te neem.
Dit is 'n erge kommer want hul kan tot $3 miljoen losprys vra. Volgens hom sal hy waarskynlik nou om die wêreld in plaas van Afrika trap wat beteken sy reis gaan dan vyf jaar in plaas van twee jaar duur en beteken dat die ekspedisie 35 000 km gaan behels.
Omdat die Vaquita II nie 'n normale boot is nie kan dit dadelik die aandag van seerowers trek wat die ekspedisie meer gevaarlik maak.
Die besondere trapboot is deur Dudley Dix, 'n bekende seiljagontwerper en argitek van Suid-Afrika ontwerp wat nou in Amerika gevestig is. Die boot is gebou deur Tertius du Plessis, afkomstig van Knysna. Wat hierdie see-ekspedisie buitengewoon maak, is die unieke menslike trapbootontwerp wat Vaquita II van enige ander vaartuig onderskei.
Meer as net 'n ekspedisie
Buiten die uitdaging self is daar meer agter die ekspedisie. Terblanche poog om R1 miljoen in te samel vir die Mannatec 5 Million-projek vir ondervoede kinders, fondse vir Operation Smile Suid-Afrika, asook fondse om Vusi Marenene se paralimpiese droom te verwesenlik.
Terselfdertyd wil hy ook bewusmaking skep vir die Vaquita-tornyne, 'n krities bedreigde tornyn wat slegs in die Golf van Kalifornië, in Mexiko aangetref word.
Vorige artikel: Fiksheid prioriteit vir ekspedisie om Afrika
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’