OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee voormalige polisiebeamptes van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, is gister in die Oudtshoorn-streekhof na die slotbetoë van die staat en die verdediging vir uitspraak tot Maart uitgestel.
Dawid Voster en Daniël Lingerveld word van moord op Frank Links op 13 Januarie 2012 aangekla.
Een van die laaste getuies in die saak en 'n voormalige kollega van die beskuldigdes, konst. April, het getuig dat hy die betrokke aand aan diens was toe die twee beskuldigdes met die oorledene by die Dysselsdorp-gemeenskapsentrum aangekom het.
Links het hom teëgesit en April het later glo gesien hoedat hy bewusteloos op die grond lê en Lingerveld een keer op sy bors getrap het.
Die verdagtes se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, vra die hof om hulle vry te spreek omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie as gevolg van te veel weersprekings deur staatsgetuies.
Willem Vister, die staatsaanklaer, meen dat genoeg getuienis voor die hof is vir skuldigbevinding.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir uitspraak tot 18 Maart uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: Aangehoudene dood in polisiestasie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'