OUDTSHOORN NUUS - Min mense besef dalk watter groot bydrae vrywilligers lewer om die polisie se taak te vergemaklik en misdaad hok te slaan. Toe Meiringspoort na Saterdag se reënbui gesluit is, was vrywilligers van De Rust-plaaswag dadelik beskikbaar om te help waar hulle kon.
Hulle het saam met die ao. Elsjé Frey, koördineerder van De Rust se plaas- en buurtwagte, by die ingang van die poort bymekaargekom om hulp aan te bied. Volgens Frey, was dit slegs een van die geleenthede waar die vrywilligers dadelik beskikbaar was.
Ons het nege plaaswagte en nege buurtwagte en hulle toewyding is duidelik as mens na hulle ure kyk. In November het die plaaswagte 521 ure gewerk en die buurtwagte het 354 ure ingesit.
Oor Desember het die twee groepe onderskeidelik 1 419 en 1 012 ure gewerk. Volgens Frey is die buurt- en plaaswagstelsel 'n projek van die department van gemeenskapsveiligheid en lede word aan 'n aantal prosesse onderwerp om te verseker dat hulle bevoeg is en ook nie vorige veroordelings het nie.
Om lede te motiveer het Frey 'n trofee geskenk wat jaarliks aan die vrywilliger wat die meeste ure gewerk het, oorhandig word. Jan Bezuidenhout was 2018 se wenner met 777 ure. 'n Verdere mylpaal vir die vrywilligers is dat De Rust oor die eerste geakrediteerde plaaswagstelsel in die land beskik.
Ao. Elsjé Frey en vyf lede van die De Rust plaas- en buurtwag by die ingang tot Meiringspoort Saterdagmiddag. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'