Video
CALITZDORP NUUS EN VIDEO - Die gemeenskap van Calitzdorp is in rou gedompel ná die tragiese dood van 'n geliefde inwoner, Marius Julies (40), wat Saterdagaand, 6 September, in 'n motorongeluk omgekom het na 'n hengeluitstappie naby Prins Albert.
Volgens die polisie het die ongeluk plaasgevind toe die regteragterwiel met die as van die bakkie losgekom het.
Julies was saam met agt vriende op die R328 naby Matjiesrivier toe die voertuig die pad verlaat het. Die ongeluk het omstreeks 18:15 plaasgevind.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie 'n saak van strafbare manslag ondersoek.
"Julies het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die agt passasiers is vir behandeling na Oudtshoorn-hospitaal geneem," het hy gesê.
Julies, was as plaaswerker by Piet Schoeman werksaam en was ook bekend as 'n passievolle hengelaar, houtmaker en veerpyltjiespeler.
Die ongelukstoneel. Foto: verskaf
Julies word oorleef deur sy moeder Maria, susters Rosé en Annetechia Julies, asook sy saamleefmaat, Sunell Claassen en 'n 16-jarige seun, Marchiano.
In gesprek met Rosé noem sy dat hulle nie geweet het hy gaan saam met vriende hengel nie.
"Hy was altyd baie besig, vriendelik en geliefd onder sy vriende en kollegas."
Die gesin woon nou 29 jaar in Calitzdorp, maar is oorspronklik van Riversdal in die Hessequa-gebied.
Die begrafnis begin eerskomende Saterdag, 13 September, om 09:00 by die familie se huis in Bergsig, Calitzdorp, en daarna vanuit die AGS Kerk Bergsig om 10:00.
Beseerdes
Johannes Fortuin is uit die hospitaal ontslaan. Johannes Goliath het Maandag 8 September weer 'n operasie aan sy elmboog in George-hospitaal ondergaan. Volgens Goliath kan hy niks van die ongeluk onthou nie. "Ek weet net ons het afgedraai, daarna kan ek niks onthou nie."
Neben Afrikaner is nog in die hospitaal, maar het aangedui dat hy weens die traumatiese aard van die voorval nie met die media wil gesels nie.
Volgens beskikbare inligting was Samuel September, Hans Mei, Jan Carelse, Tom Uithaler en Tom Botha ook in die bakkie. Teen saktyd kon hulle egter nie opgespoor word of die aard van hul beserings bevestig word nie. Twee van die beseerdes is afkomstig van Rietfontein.
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) beoog om volgende week 'n kranslegging te hou op die plek waar die ongeluk plaasgevind het. Die besonderhede sal nog bekendgemaak word.
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’