OUDTSHOORN NUUS - Die meeste aangenome kinders raak groot sonder om ooit hul biologiese ouers te ontmoet. Party kies om nie te soek nie, ander kry bloot nooit die geleentheid nie.
Vir Denver Damons (33) van Oudtshoorn het dié lewenslange behoefte om sy ma te ontmoet Vrydag 29 Augustus tot 'n einde gekom.
Drie maande gelede het Denver se aangenome pa, Abraham Moos, onverwags gesterf.
Ná sy dood het dit duidelik geword dat Denver al vir jare vrae oor sy oorsprong het.
Sy aangenome ma, Doreen, het uiteindelik haar seun sy biologiese ma se naam gegee, maar ongelukkig met die verkeerde van.
Met vasberadenheid en geduld het Ellen Prins en Joey Canarie besluit om Denver te help. Ná maande se gesoek het hulle uiteindelik sy geboortesertifikaat opgespoor. Tot hul verbasing was die van nie Damons nie, maar Luiters.
Inligting het onthul dat Denver se biologiese ma, Spasina Luiters, jare gelede op Vogelsang gewoon het.
Op 20 het sy swanger geraak en is haar baba kort daarna vir aanneming opgegee, 'n besluit wat haar lewenslank sou bybly.
Vrydag 29 Augustus was 'n dag vol trane, vreugde en ongeloof. Vir die eerste keer in sy lewe het Denver sy biologiese ma styf vasgehou.
Volgens familielede wat teenwoordig was, was die ooreenkoms onmiddellik sigbaar: "Hy lyk net soos ons," het 'n familielid gesê.
Die grootste ironie is dat Denver en sy ma al dié jare net 'n klipgooi van mekaar af gewoon het, hy in Oudtshoorn en sy in De Rust. "Ek kan dit steeds nie glo nie. Ons was letterlik net kilometers van mekaar af," vertel Denver.
Nou beoog hy om nie net 'n sterk band met sy bloedfamilie te bou nie, maar ook om sy ma finansieel te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’