OUDTSHOORN NUUS - Sektor 3 se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Dinsdag 2 September weer vergader.
Die byeenkoms is positief afgeskop met die teenwoordigheid van verteenwoordigers van munisipale wetstoepassing, asook Ian Avontuur van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Die enigste departement wat nog ’n verteenwoordiger na die maandelikse vergaderings moet afvaardig, is Justisie.
Misdaadstatistieke
Volgens die jongste syfers bly misdaad in die gebied grotendeels stabiel in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024. Die polisie het bevestig dat een moord die afgelope week aangemeld is, terwyl ’n geringe toename in pogings tot moord, diefstal uit voertuie en winkeldiefstal waargeneem is.
Algemene diefstal en diefstal by besighede toon intussen óf stabiliteit óf ’n ligte afname. Bedrog, veral deur telefoniese misleiding waar slagoffers oorreed word om sensitiewe inligting te deel bly egter ’n ernstige probleem.
Inwoners word dringend gewaarsku om nooit persoonlike inligting oor die telefoon te verstrek nie en uiterste omsigtigheid aan die dag te lê met aanlyn aankope.
Wetstoepassing en veiligheid
Die GPF het saam met die polisie en munisipale wetstoepassing lof ontvang vir hulle optrede teen onwettige karwagte. Altesaam 11 persone is elk met R500 beboet. Die sake word na die hof verwys en kan moontlik tot vonnisse van gemeenskapsdiens lei.
Besighede en inwoners het reeds positiewe terugvoer gegee dat die sakekern merkbaar veiliger voel, met kliënte en toeriste wat die gebied sonder intimidasie kan besoek.
Kameraprojek
Avontuur het verder bevestig dat die Oudtshoorn-munisipaliteit se GKTV-kameraprojek steeds aan die gang is. Misdaadbrandpunte is reeds in samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye geïdentifiseer. Die munisipale beheerkamer sal uitgebrei word met addisionele skerms en personeel sodat 24-uur monitering moontlik kan wees.
Die polisie het egter daarop gewys dat verskeie kameras in die sakekern tans buite werking is, wat dit bemoeilik om beeldmateriaal vir ondersoeke te bekom. ’n Gebrek aan ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die betrokke sekuriteitsfirma het tot onvoldoende instandhouding gelei.
AfriForum het aanbeveel dat die kameras onmiddellik heraktiveer word sodat beeldmateriaal opgeneem kan word, selfs al is direkte monitering nog nie ten volle operasioneel nie. Volgens die organisasie kan sodanige opnames ’n deurslaggewende rol speel in die identifisering van verdagtes en die suksesvolle vervolging van misdaad.
Kwessies wat kwel
Kinders op straat in De Rust raak ’n wesenlike probleem vir inwoners en is AfriForum genader om in te gryp met ’n buurtwagstelsel.
AfriForum-buurtwag
Spesiale erkenning is tydens die vergadering aan die AfriForum-buurtwag gegee vir hul betekenisvolle rol in misdaadvoorkoming binne woonbuurte. Aa Pieter du Plessis het benadruk dat sigbaarheidspatrollies ’n groot afskrikmiddel bied en dat misdaadvoorkoming voorkeur behoort te kry bo die blote opsporing en vervolging van oortreders.
Hy het bygevoeg dat die waarde van hierdie patrollies nie onderskat moet word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’