LADISMITH NUUS - ’n 16-jarige seun van die plaas Lofpoort Boerdery buite Ladismith is reeds vier weke vermis. Ondanks volgehoue pogings is daar steeds geen teken van hom nie.
Jason Visagie het die aand van 9 Augustus verdwyn nadat daar glo ’n gesinsargument plaasgevind het. Volgens sy pa, Jan, het Jason weggeloop ná ’n meningsverskil tussen sy pa en sy broer.
“Dit was nie ’n ernstige bakleiery nie, net woorde wat geval het,” verduidelik hy. “Jason het gesê hy wil Laingsburg toe gaan na sy ma toe. Maar sedertdien het niemand hom weer gesien nie.”
Kort ná sy verdwyning is ’n soekgeselskap op die been gebring. Loucrecia Maasdorp, ’n gemeenskapswerker in Ladismith, sê sy was deel van die groep wat vir twee dae lank in die omgewing gesoek het.
“Ons het die plase en omliggende gebiede deeglik deursoek, maar sonder enige sukses,” sê sy. “Ek het toe versoek dat die polisie formeel by die saak betrokke raak.”
Polisie en lede van die gemeenskap tydens die soektog na die vermiste seun. Foto verskaf
Maasdorp sê na die formele soekgeselskap ontbind het, het die inwoners op die plaas steeds met die soektog voort gegaan.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat die soektog steeds voortduur. Hy sê adjudant-offisier Franklin Hartnick, die ondersoekbeampte, het ’n beroep op die publiek gedoen om te help.
Enigiemand met inligting wat kan bydra tot Jason se veilige terugkeer, word versoek om Hartnick by die Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings te kontak by 082 335 0606, of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’