OUDTSHOORN NUUS - Plaaslike skrywers kry op Saterdag 28 Februarie vir die eerste keer die geleentheid om hulle eie boekedag te hou.
Die boekedag word deur die Arbeidsgenot-komitee by Die Neelsie gereël.
Skrywers van Oudtshoorn, wie se werk meestal deur klein uitgewers gepubliseer is, kry nie noodwendig dieselfde blootstelling as wat skrywers by hoofstroomuitgewers kry nie, en hierdie is ’n ideale geleentheid om hulle eie skryfwerk onder Oudtshoorniete bekend te stel.
Daar is tien skrywers wat die uitnodiging om deel te neem, aanvaar het en elkeen kry tydens die program geleentheid om oor hulle boeke te gesels. Boeke sal ook te koop aangebied word.
Die skrywers wat deelneem is Leon Coetzee, Stephan Henrico, Charmaine Beneke, Eunice Strydom, Kobus Minnie, Marcus Saayman, Andries Marais, Maretha van der Westhuysen, Marita Lamprecht en Susan Ongansie.
Die dag sluit egter nie slegs die skrywers se deelname in nie. Inwoners wat lief is vir lees word ook genooi na die heel eerste Silent Library wat by Arbeidsgenot aangebied word.
Silent Libraries is ’n konsep wat wêreldwyd plaasvind waar lesers op ’n bepaalde dag vir ’n uur bymekaarkom en net sit en lees.
Arbeidsgenot se Silent Library vind Saterdagoggend, 28 Februarie, vanaf 08:00 tot 09:00 plaas en lesers word genooi om ’n boek te bring en elkeen op sy eie iewers in die tuin te sit en lees. As daar genoeg belangstelling is, sal dit ’n weeklikse instelling word.
Die Langenhoven Gedenkfonds wat die bestuur en finansies van Arbeidsgenot behartig hou ook dieselfde oggend tussen 09:00 en 09:45 hulle algemene jaarvergadering in Die Neelsie en lede van die publiek word genooi om dit by te woon.
Die boekedag se program begin om 10:00 na afloop van die vergadering en duur tot om ongeveer 12:30. Toegang tot die dag is gratis. Vir enige navrae, skakel Hannes Visser by 083 467 1522.
Vorige berigte:
- Gulde geleentheid vir plaaslike skrywers
- Kom vier Afrikaans by Arbeidsgenot
- Nuwe komitee vir Arbeidsgenot in ODN gestig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’