OUDTSHOORN NUUS - Die geskiedkundige Arbeidsgenot, voormalige woning van bekende skrywer en taalstryder CJ Langenhoven, gaan op Woensdag 8 Mei ’n besonderse geleentheid aanbied om die 100-jarige herdenking van Afrikaans as amptelike landstaal te vier.
Die Arbeidsgenotkomitee het hierdie week die volledige program bekend gemaak en nooi die gemeenskap hartlik uit om die dag se verrigtinge by te woon en deel te wees van dié taalviering.
Die dag begin met begeleide toere deur die huis, aangebied deur Langenhoven-kenner Mariana Swanepoel. Dié toere vind plaas om 10:00, 11:00, 12:00 en 13:00 teen slegs R20 per persoon. Geen voorafbespreking is nodig nie.
Om 14:00 volg ’n kort toespraak, gevolg deur die hys van die landsvlag en die aanplant van drie katjiepeiring-bome deur die hoofleiers van Hoërskool Langenhoven (Riversdal) en Langenhoven Gimnasium (Oudtshoorn). Hoërskoolhoofleiers van regoor die Groter Oudtshoorn is ook uitgenooi om die middagverrigtinge by te woon.
Teen 15:00 sal daar weer ’n geleentheid wees om Arbeidsgenot gratis te besigtig, spesiaal vir die leerders wat die herdenking bywoon.
Die viering kulmineer in ’n aandfunksie in die Neelsie-teater, wat om 18:00 begin. Die gerespekteerde akteurspaar Johan en Lida Botha sal kort voorlesings van Langenhoven se werk en van van die heel eerste Afrikaanse gedigte behartig. Kaartjies vir die aandprogram kos R30 per persoon, en sluit verversings in.
Slegs 100 kaartjies is beskikbaar en kan vooraf gekoop word by die KKNK-kantore (agter Arbeidsgenot), die Oudtshoorn Courant-kantoor in Voortrekkerweg, of by Hannes Visser.
Vir meer inligting, skakel gerus vir Visser by 083 467 1522.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’