OUDTSHOORN NUUS - Plaaslike skrywers kry op 28 Februarie geleentheid om hul skryfwerk met die publiek te deel.
Die geleentheid word deur die Arbeidsgenot-komitee beplan as deel van vanjaar se program om inwoners en toeriste aan te moedig om Arbeidsgenot, die woning van CJ Langenhoven, te besoek en die Neelsie-teater te benut.
Verlede jaar is drie geleenthede by die Neelsie aangebied en elkeen is uitstekend deur inwoners ondersteun.
Met die skrywersdag op 28 Februarie wil die komitee skrywers van Oudtshoorn die geleentheid gee om tussen 09:00 en 13:00 hul eie boeke te bemark en oor hul skryfwerk te gesels.
Daar is talle skrywers in Oudtshoorn wat hul werk deur kleiner uitgewers of by wyse van selfpublikasie publiseer en nie die blootstelling kry wat boekwinkels bied nie.
Die huis waar die bekende CJ Langenhoven gewoon het, is die gepaste plek vir skrywers en lesers om bymekaar te kom en oor boeke te gesels.
Skrywers wat belangstel word gevra om so spoedig moontlik met Hannes Visser by 083 467 1522 kontak te maak sodat die komitee kan wegspring om ’n program vir die oggend saam te stel.
Daar word ook beoog om ’n weeklikse leesuur in die tuin van Arbeidsgenot aan te bied waar lesers vir een uur op ’n spesifieke dag in die tuin kan sit en vir ontspanning lees. Die eerste leesuur sal as deel van die skrywersdag op 28 Februarie aangebied word. Meer inligting hieroor sal saam met die program gegee word.
Die program vir die skrywersdag en leesuur sal bekendgemaak word sodra die lys van skrywers wat wil deelneem, bevestig is. Deelname aan die dag is gratis en skrywers se boeke sal ook te koop wees.
Die Arbeidsgenot-komitee ondersoek ook die moontlikheid om ’n sogenaamde 'Little Library' by Arbeidsgenot aan te bring. Die konsep het ontstaan om mense aan te moedig om te lees en behels 'n kas waar boeke beskikbaar is om geleen of geruil te word en is toeganklik vir enigiemand.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’