OUDTSHOORN NUUS - ’n Nuwe Arbeidsgenot-komitee is die afgelope naweek tydens ’n byeenkoms by Arbeidsgenot in Oudtshoorn gestig. Hierdie komitee, wat as ’n subkomitee van die Langenhoven Gedenkfonds (LGF) funksioneer, sal dien as die plaaslike verteenwoordiger van die fonds en toesien dat Arbeidsgenot as museum en kultuursentrum nie net bewaar word nie, maar weer ’n dinamiese deel van die gemeenskap se kultuurlewe word.
Hierdie fonds is in 1950, ná die dood van Langenhoven se vrou, Vroutjie, in die lewe geroep om die nalatenskap van die digter, skrywer en taalstryder te bestuur.
Volgens Daniël Lötter, ’n lid van die LGF, was daar vroeër ’n plaaslike Arbeidsgenot-komitee wat jare lank met oorgawe gewerk het, maar dit het oor tyd uitgedoof namate lede verhuis of oorlede is.
“Omdat die huidige lede van die LGF hoofsaaklik buite Oudtshoorn woon, het ons dit nodig geag om weer ’n plaaslike groep op die been te bring wat prakties betrokke kan wees by Arbeidsgenot. Ons wou mense nader met ’n passie vir Afrikaans, vir Langenhoven, en vir hierdie gemeenskap, sodat hierdie ‘Oudtshoornicana’ nie verlore gaan nie.”
Die nuwe komitee bestaan uit Carl Coetzer, Christo Smit, Peet Vermaak, Ilse Meyer, Hannes Visser, Liezl Mc Duling en Suzette Basson. Hulle sal fokus op die instandhouding van Arbeidsgenot, die beplanning van kultuurgeleenthede en die aktiewe bevordering van Langenhoven se nalatenskap.
Die eerste groot projek op hul agenda is ’n spesiale viering op 8 Mei, wat die 100-jarige herdenking van die amptelike erkenning van Afrikaans as landstaal gedenk - ’n gebeurtenis waarin Langenhoven ’n sleutelrol gespeel het.
Een van die simboliese handelinge wat vir hierdie geleentheid beplan word, is die herplanting van ’n katjiepieringstruik by die trappe van Arbeidsgenot - ’n herinnering aan die oorspronklike struik wat me. Langenhoven in 1925 geplant het.
Die herstigting van die Arbeidsgenotkomitee is ’n poging om nie net die gebou en erfgoed te beskerm nie, maar ook om nuwe kulturele inisiatiewe en betrokkenheid te stimuleer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’