OUDTSHOORN NUUS - Die groot tekort aan speurders in die Wes-Kaap lei daartoe dat speurders met tot meer as 200 dossiere sit wat gevolglik daartoe lei dat minder skuldigbevindings plaasvind en tot 85% van alle strafsake van die hofrolle geskrap word omdat sake nie behoorlik ondersoek kan word nie en dossiere nie na die howe gebring word nie.
So het die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en sekuriteit, Albert Fritz, verlede week in die Bridgton-biblioteek gesê tydens 'n vergadering met afgevaardigdes van verskeie rolspelers.
Frits sê die mededeling van die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, dat die Wes-Kaap die meeste polisiehulpbronne van die nasionale regering ontvang is van alle waarheid ontbloot.
Kwessies wat tydens die vergadering bespreek is, is dat geen noemenswaardige opleiding tans by die Oudtshoorn Polisie Akademie plaasvind nie, die tekort aan polisielede en polisievoertuie, landelike veiligheid en behoorlike wetstoepassing.
Oudtshoorn beskik tans oor slegs 15 munisipale wetstoepassers wat hopeloos te min is.
Die vergadering wat deur die Oudtshoorn DA gereël is, is bygewoon deur afgevaardigdes van onder andere die SAPD, munisipale wetstoepassers, buurtwagte, AfriForum en sekuriteitsfirmas asook die DA se kiesafdelingshoof vir die Eden-distrik, Eleanore Bouw-Spies.
Volgens Fritz is vennootskappe van kardinale belang in die uitvoering van die provinsie se veiligheidsplan.
Die provinsie het 'n goeie werksverhouding met die provinsiale polisiekommissaris, genl.maj. Thembisile Patekile, maar beskik nie oor genoegsame polisielede op voetsoolvlak nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'