OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Rose Valley is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind aan die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie en 'n stywe boete opgelê asook onder huisarres geplaas.
George Willemse (45) het 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Volgens hom het hy die semi-outomatiese vuurwapen en ammunisie langs die De Rust-pad opgetel en gehou totdat die eienaar daarvoor gesoek het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die regte ding wat Willemse moes doen was om die vuurwapen en ammunisie na die polisie te neem.
Onwettige vuurwapens wat in omloop is, rig groot skade aan en word meesal gebruik om misdaad te pleeg, het die landdros gesê.
Die hof het in ag geneem dat Willemse oop kaarte gespeel en wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om ‘n ligter vonnis op te lê.
Hy is ‘n eerste oortreder en het erken dat hy verkeerd opgetree het.
Volgens die landdros is die ooreengekome vonnis reg en billik.
Die twee aanklagte is vir vonnis saamgeneem en volgens die ooreenkoms met die staat is Willemse gevonnis tot 'n boete van R30 000 of drie jaar gevangenisstraf en drie jaar korrektiewe toesig met huisarres van 24 uur per dag behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Die hof het sy aanbod aanvaar om onmiddellik R10 000 te betaal en die balans van R20 000 teen 'n maandelikse paaiement van R1 000 af te betaal.
Hy en sy vrou het ook besluit dat indien dit moontlik is hulle meer as die vasgestelde paaiement sal betaal.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'