Ellen Barnard van Jay-Jay Bikes was Maandag in Hoopstraat onderweg om 'n bromponie wat haar man Kobus gediens het by die eienaar af te lewer toe sy 'n slaggat wat in die koelte van 'n boom verbloem was getref het. Met die slag het sy beheer oor die bromponie verloor en geval. Sy het verskeie ribbes gekraak en kwaai skaafmerke aan haar been en arm opgedoen. Die bromponie wat aan Rouel du Preez behoort is ernstig beskadig in die ongeluk.
Die ongeluk het enkele meters van Du Preez se huis gebeur. "Ek het die slag en die skuur-geluide gehoor en toe hoor ek Ellen skree. Sy het hard geval en baie pyn gehad," het hy Dinsdag vertel waar hy die stukkende padoppervlakte aan die Oudtshoorn Courant gewys het. Hy het sy bromponie in een van die gate getrek om te wys hoe diep dit is. Die gat vorm deel van 'n groot gedeelte van die padoppervlakte wat verlede jaar reeds opgebreek is en slegs met gruis opgevul is.
Dit blyk dat die munisipaliteit die padoppervlakte opgebreek het om 'n wateraansluiting aan te bring vir 'n inwoner drie huise bokant Du Preez se huis. Die inwoner moes glo R7 000 betaal vir die werk wat die herstel van die pad sou insluit. Dit blyk dat hy die geld reeds verlede jaar betaal het, maar die pad is nooit herstel nie.
Kobus Barnard, Ellen se man en vennoot het bevestig dat hy reeds 'n prokureur opdrag gegee het om 'n eis teen die munisipaliteit voor te berei.
"Die ongeluk kom ons duur te staan. Daar is mediese koste, die skade aan die bromponie wat in ons sorg was en ook verlies aan inkomste want Ellen sal vir 'n ruk nie kan werk nie. Dis tyd dat mense die munisipaliteit aanvat oor hulle swak dienslewering. Hulle mors geld links en regs op salarisse en hofsake en doen nie wat hulle moet doen nie. Dit moet stop," het 'n verontwaardige Barnard gesê.
'n Navraag aan die munisipaliteit ten opsigte van hulle plan met slaggate en moontlike aanspreeklikheid in die geval van skade en beserings is gister teen saktyd nie beantwoord nie.
* The owner of Jay-Jay's bikes is considering legal action against the municipality after his wife was injured when she lost control of a scooter after hitting a pot hole. Kobus Barnard wrote a letter to newspapers to voice his displeasure in the inability of the municipality to maintain roads. His wife Ellen was delivering a scooter to a client in Hoop Street when she fell. She has several cracked ribs as well as abrasions to her knee and elbow. It seems that the municipality has failed to repare the tar since it was broken up last year to replace a water pipe.

'n Valhelm dui die diepte van die gat aan wat veroorsaak het dat 'n motorfietsryer in Hoopstraat geval en haar ribbes gekraak het.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR