OUDTSHOORN NUUS - Hoër- en laerskole van Oudtshoorn was Maandagoggend slaggereed om die matrieks en gr. 7-leerders te ontvang.
Wat sê die skole
Met besoek aan Oudtshoorn se skole het skoolhoofde gesê dat hul personeel reeds ongeveer twee weke besig is om skole skoon te maak en te ontsmet sodat dit veilig is vir personeel en leerders om met die 2020-skooljaar voort te gaan.
Skole het skoolsale en alternatiewe lokale ingerig sodat leerders en onderwysers saam slegs 50 in die klaskamers is en sodat almal 'n veilige afstand kan handhaaf. Voor skool word leerders se temperature gemeet en moet hulle 'n lys vrae beantwoord voordat hulle die skoolterrein kan betree.
Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium sê Gimmies is 100% gereed om voort te gaan soos die regulasies bepaal.
"Ons is bevoorreg genoeg om genoeg spasie te hê om die leerders te akkommodeer en ons weet ons leerders is ewe opgewonde om met hope selfdissipline te begin."
Volgens hom is daar 'n paar eerstes wat almal nou aan gewoond moet raak.
"Die matriekklas van 2020 se laaste interskole is afgestel, die prysuitdeling sal ook waarskynlik nie kan plaasvind nie en Mnr. en Mej. Gim is afgestel."
Matriekleerders van Langenhoven Gimnasium wys hoe om veilige afstande tydens pouse te handhaaf. Foto: Liezl van Niekerk
SW Voster, departementshoof van Laerskool Laurus sê hulle is ewe opgewonde om met die jaar te kan voortgaan.
"Natuurlik gaan dit 'n uitdaging wees om aan die nuwe regulasies gewoond te raak, maar ons voldoen aan elke liewe een van hulle. Ons onderwysers is gereed om weer by die skool klas aan te bied.
"Ons het die vakansie sover moontlik van aanlynklasse gebruik gemaak, so dit gaan lekker wees om 'n slag weer persoonlik met hulle te kan werk. Ons is ook reg vir die ander grade om te begin en hulle sal ook, soos die gr. 7's, met die nuwe regulasies ontvang word."
Peter Adams, skoolhoof van Colridge Primêr, sê alles het seepglad by sy skool verloop.
"Dit is vir my opvallend dat die leerders reeds veiligheidsbewus is van die oomblik toe hulle by die hek ingestap het - alles natuurlik te danke aan hul ouers. Dit maak verseker ons werk as opvoeders soveel makliker vir wanneer hulle ons veiligheidsoriëntasiesessies moet toepas.
Al ons onderwysers is ook toegerus met 'n School Screening Program op ons fone waar ons individueel geëvalueer word. Die resultate word direk na die departement van onderwys gestuur. Onderwysers wat dié toets nie deurkom nie word onmiddellik onttrek en na 'n mediese dokter verwys. Indien hierdie uitslae nie Covid-19 verwant is nie mag die betrokke onderwyser weer terug keer skool toe."
Gr. 7-leerders van Laerskool Laurus Maandagoggend in hul nuwe lokaal.
Foto: Liezl van Niekerk
Wat sê die Staatskoerant
Volgens die nuwe regulasies soos dit in die Staatskoerant van 1 Junie 2020 aangedui is, is dit nog bietjie meer as 'n maand voor nog leerders by skole toegelaat word.
Op 1 Junie is matrieks, gr. 7-leerders en jaarvlak 4-leerders van vaardigheidskole weer terug skool toe.
Vanaf 6 Julie mag voorskoolse sentrums kinders ontvang en gr. 1-, 2-, 3-, 6-, 10- en 11-leerders, vaardigheidskole se jaarvlakke 2- en 3-leerders, en spesiale sorgsentrums vir leerders met gestremdhede ook voort gaan.
Op 3 Augustus sal die laaste leerders na die onderskeie skole terugkeer. Dit sluit die gr. 4-, 5-, 8-, en 9-leerders en vaardigheidskole se jaar vlak 1-leerders in.
Volgens die staatskoerant mag skole afwyk van die infasering en leerders vroeër laat skool toe gaan mits hulle aan al die gesondheidsvereistes voldoen en vooraf by die departement aansoek doen.
Nasorgsentrums vir leerders mag ook oopmaak indien hulle aan die vereistes voldoen.
'n Onderwyser van Fezikile Secondary School neem 'n leerder se tempratuur.
Foto: Wyndham Ewerts
Wat sê die WKOD
Volgens Kerry Mauchline, Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Shäfer, se woordvoerder, het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) reeds R280 miljoen spandeer aan skoonmaakmiddels en aan persoonlike beskermende toerusting. "Dit sluit twee maskers vir elke leerder en vir elke WKOD-personeellid in.
Ons het ook 7 000 digitale termometers vir die skanderingsproses gegee en 'n klomp handsaniteringsmiddels en ontsmettingsmiddels.
Volgens haar sal die week gebruik word om leerders ten opsigte van die virus te oriënteer en ook wat die korrekte prosedures is om te volg wanneer hande gewas word en hoe die nuwe maatreëls by die onderskeie skole toegepas word.
Vorige artikel: Oudtshoorn-skole slaggereed
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'