Update
LADISMITH NUUS - Shonique van Wyngaardt, moeder van die sewejarige Shintino van Wyngaardt wat in April wreed vermoor is, het uiteindelik berusting gevind nadat sy Sondag haar seun ter ruste gelê het.
Lundi Yoxo-begrafnisdienste kon uiteindelik op Sondag 11 Julie die oorskot na Hoeko, buite Ladismith neem vir die teraardebestelling.
Shintino se verbrande liggaam is op 5 April in ’n vlak graf op die plaas Hartmansleegte gevind. Hy is klaarblyklik eers vermoor en daarna is sy liggaam aan die brand gesteek.
Die liggaam is na die staatslykhuis in Oudtshoorn geneem waar forensiese toetse gedoen moes word om sy identiteit bo enige twyfel te bepaal.
Oudtshoorn Courant het berig dat 'n 16-jarige seun vir die moord in hegtenis geneem is.
Omdat hy minderjarig is, mag sy naam nie bekendgemaak word nie. Hy het reeds in die Ladismith-landdroshof verskyn.
Volgens betroubare bronne is Shintino by 'n dam met 'n harde voorwerp aangerand en toe verder die veld ingedra. 'n Bron het verder gesê dat daar toe 'n vlambare vloeistof oor Shintino gegooi is en hy is aan die brand gesteek. Shintino is daarna in 'n vlak graf begrawe. Die verdagte gaan na bewering nie meer skool nie.
Vir die familie van die oorledene was hierdie wagtydperk ’n nagmerrie.
"Ons kan nie voortgaan met ons lewens nie. Soms hoop ek dat Shintino by die huis sou instap, al het ek geweet hy is dood,” het Theresa van Wyngaardt, Shintino se ouma gesê.
Familie en vriende by Shintino se graf.
Lundi Joxo (regs voor), begrafnisondernemer, tydens die begrafnis.
Leoni Stuurman, 'n raadslid, troos Shonique van Wyngaardt, Shintino se ma. Foto's: Deon Meyer
Vorige artikels:
- Nog geen begrafnis vir Shintino
- Hoeko-seun op 7 Mei gegroet
- 16-Jarige vas vir moord
- 16-Jarige vas vir moord op Santino
- Liggaam moontlik die van klein Santino
- Seun se verkoolde liggaam in Hoeko gevind
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'