LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie vra die hulp van die gemeenskap na die verkoolde liggaam van 'n seun, vermoedelik sewe jaar oud, gister in die Hoeko-omgewing gevind is.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n "72 uur-plan" gemobiliseer.
"Alle polisiehulpbronne, ook die gespesialiseerde eenhede van die polisie is ingeroep om die toneel vir leidrade te fynkam. Die seun se liggaam is in 'n vlak graf op die plaas Hartmansleegte gevind." Volgens hom is 'n moord-dossier geopen.
"Die polisie het inligting ontvang wat hulle opgevolg het, maar die kind se liggaam is onherkenbaar verbrand en forensiese deskundiges moet DNS-toetse doen om die kind se identiteit te bepaal. Die oorsaak van sy dood moet ook bepaal word."
Pojie het gesê dat hulle die gemeenskap se hulp nodig het om meer inligting oor die voorval te bekom.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, ao. Clinton Crawley by 028 551 8144 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'