OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Fritz Jacobs en Tammy Weyers, die beweerde Badenhorst Slaghuis-diewe, sal moontlik binne-kort tot 'n einde kom.
Weyers en Jacobs het vanoggend hul tweede verskyning in die Oudtshoorn-streekhof gehad.
Die paartjie is September verlede jaar in Knysna in hegtenis geneem na hulle na bewering met Badenhorst Slaghuis se geld en die bakkie verdwyn het.
Hulle staar aanklagte van diefstal en die gebruik van 'n voertuig sonder die eienaar se toestemming in die gesig. Weyers is in Oktober op borgtog van R2000 vrygelaat terwyl borgtog aan Jacobs geweier is.
Eugene Roos, die twee se regshulp prokureur, het vanoggend aangedui dat daar moontlik 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan kan word.
Landdros Retha Pretorius het die saak na 18 Februarie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'