OUDTSHOORN NUUS - Die appèlhof het die aansoek van die voormalige bestuurder van Kango Wyne, Johan Brits, om verlof om teen sy skuldigbevinding te mag appelleer, van die hand gewys en vir vonnisverrigtinge terugverwys na die Oudtshoorn-streekhof.
Regters Schippers en Mbata het op 28 September 2021 die aansoek met koste van die hand gewys op gronde dat die vereistes vir spesiale verlof om te appelleer nie bevredigend was nie.
Brits is reeds in 2015 in die Oudtshoorn-streekhof deur streeklanddros Neels Nortjé skuldig bevind op 23 aanklagte van bedrog en twee van oortreding van die Wet op Drankprodukte.
Hy is daaraan skuldig bevind dat hy ‘n vreemde produk bekend as “Ale” met wyn vermeng en dit onder die ou etikette bemark het, asook dat hy seëls wat deur ‘n beampte van die departement landbou aan wyntenks aangebring het, verwyder het.
Sy aansoeke om die bevinding van die hof op hersiening te neem en ook om teen die skuldigbevinding te appelleer, is vroeër deur die Kaapse hooggeregshof van die hand gewys waarna hy hom tot die appèlhof in Bloemfontein gewend het.
Adv. Louis van Niekerk, senior staatsaanklaer in die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging, het Brits se aansoek teengestaan.
Streeklanddros Kenneth Peters het die saak vir vonnisverrigtinge tot 30 Januarie 2022 uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Appélaansoek van Johan Brits afgekeur
- Johan Brits wil appelleer
- Hersiening nie toegestaan
- Saak teen Brits uitgestel
- Hersieningsaansoek van Brits terugverwys
- Voormalige wynhuisbestuurder: Saak uitgestel
- Voormalige wynhuisbestuurder weer in hof
- Voormalige wynhuisbestuurder in 2016 gevonnis
- Voormalige bestuurder skuldig aan bedrog
- Opvolg: Ontslag geweier in Brits-bedrogsaak
- Hof wil Brits nie verskoon vir 'bier'-mengsel
- Uitspraak in Brits-saak dalk September
- Brits-hofsaak uitgestel tot 2014
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'