Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Johan Brits, voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne, is in die Oudtshoorn-streekhof tot 2020 uitgestel nadat die verdediging die hof oortuig het om voort te gaan met sy aansoek om hersiening van Brits se skuldigbevinding.
Die Wes-Kaapse regter-president, John Hlope, het in Mei vanjaar geweier om die hersieningsaansoek op die hofrol te plaas en dit terugverwys na die Oudtshoorn-streekhof waar Brits deur streeklanddros JC Nortjé skuldig bevind is op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte.
Volgens die staatsaanklaer, adv. Louis van Niekerk, moet 'n datum nou bepaal word wanneer Brits en die staat voor die regter-president 'n aansoek om verlof tot appèl teen die besluit van die regter-president, in die Wes-Kaapse hooggeregshof te argumenteer.
Die voorlopige streekhofdatum, vir 'n datum om weer in die hooggeregshof te verskyn, is 31 Maart 2020.
Brits voer aan dat landdros Nortjé fouteer het in sy uitspraak deur glo ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toe te laat en toelaatbare of bevoegde getuienis te ignoreer.
Die staat staan die aansoek teen en voer aan dat Brits 'n regverdige verhoor gekry het.
Adv. Martinus Barnard verskyn namens Brits.
Lees vorige artikels:
- Hersieningsaansoek van Brits terugverwys
- Voormalige wynhuisbestuurder: Saak uitgestel
- Voormalige wynhuisbestuurder weer in hof
- Voormalige wynhuisbestuurder in 2016 gevonnis
- Voormalige bestuurder skuldig aan bedrog
- Opvolg: Ontslag geweier in Brits-bedrogsaak
- Hof wil Brits nie verskoon vir 'bier'-mengsel
- Uitspraak in Brits-saak dalk September
- Brits-hofsaak uitgestel tot 2014
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'