OUDTSHOORN NUUS - Die hersieningsaansoek van die voormalige hoofbestuurder van die destydse Kango Wyne op Oudtshoorn Johan Brits, is in die hooggeregshof in Kaapstad vir afhandeling van vonnisverrigtinge na die Oudtshoorn-streekhof terugverwys.
Brits is op 23 aanklagte van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte skuldig bevind.
Adv. Louis van Niekerk, senior advokaat in die kantoor van die direkteur van openbare vervolging en aanklaer in die saak, het streeklanddros Neels Nortjé op 29 Julie meegedeel dat regter president John Hlophe op 12 Junie die besluit geneem het.
Brits het in sy aansoek aangevoer dat die streekhof fouteer het in sy uitspraak deur glo ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toe te laat en toelaatbare of bevoegde getuienis te ignoreer.
Die staat het Brits se aansoek teengestaan en aangevoer dat hy wel 'n regverdige verhoor gekry het.
Volgens die staat het die beskuldigde persoonlik die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid op hom geneem om te verseker dat die "Ale" aanvanklik in die geheim geproduseer word, sonder nuwe wynetikette enigsins ontwerp of aangekoop is.
Dit is ook volgens getuienis duidelik dat die direksie nie ten volle ingelig was oor wanneer die vervaardiging van die "Ale" sou begin nie.
Alle vrae deur verskeie werknemers van Kango Wyne ten opsigte van die produsering, bottelering, bekendstelling aan die markte en die negatiewe reaksie van die markte ten opsigte van die nuwe produk is deur die beskuldigde gestop met die woorde: "Moenie vrae vra nie en doen wat ek sê."
Landdros Nortjé het die saak in die streekhof op Mosselbaai vir die aanhoor van 'n verdere versoek van die verdediging om teen die hooggeregshof se bevel te appelleer tot 18 September 2019 uitgestel.
Die staat staan die versoek teen en vra dat daar voortgegaan word met die finalisering van die vonnisverrigtinge.
Geen argument is op 29 Julie voor die hof gebring dat die aansoeker nie 'n regverdige verhoor gekry het omdat die staat weens 'n oorvol hofrol, sekere getuies geroep het en ander nie.
Die landdros het aangedui dat vonnisver-rigtinge kan voortgaan indien die verdediging nie op 18 September die hof kan oortuig vir 'n verdere uitstel vir die hantering van die hooggeregshof verrigtinge nie.
Brits sal moet aandui of hy gaan getuig voordat finale voorvonnis argumente gevoer word.
n Landdros Nortjé het einde Julie na 49 jaar in justisie uitgetree, maar sal moet terugkom om hierdie saak sowel as ander deelsverhoorde sake te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'