RUBRIEK - Met die afsterwe van oudpres. FW de Klerk verlede Donderdag, 11 November, het my gedagtes ver teruggegaan na die lewensreise wat ons onderneem en hoe ons paaie met ander mense kruis. Dit het my laat terugdink aan 'n Vrydag in 1995.
Dis Vrydagoggend. Vir 'n joernalis wat by 'n Sondagkoerant werk, is dit die begin van die pylvlak - spertye. Dinge moet nou na 'n punt beweeg. Ek werk as politieke beriggewer en het my eie kantoor in die parlement.
Die aanvanklike gevoel van "eie belangrikheid" om 'n kantoor in die parlement in die hartjie van Kaapstad te hê, het reeds verdwyn. Goeie gehalte berigte is nou prioriteit.
Een van die twee telefone in my kantoor lui. Dis 'n lang aaneenlopende lui. Dus: 'n Interne oproep van die parlementêre kompleks. Ek antwoord. "Wil jy 'n goeie storie hê?" vra die stem aan die ander kant. Ek herken dadelik die stem. "Natuurlik," antwoord ek.
'n Rukkie later bel ek Frik Schoombie, adj.pres. FW de Klerk, se woordvoerder in Pretoria. "Gaan mnr. De Klerk vanoggend George toe?" wil ek weet. Frik is altyd vriendelik en behulpsaam, maar vanoggend hou hy dit kort: "Geen kommentaar."
Ek bel my direkte hoof in Johannesburg. "Freek, FW gaan George toe om PW oor die Waarheidskommissie te gaan sien. Ek dink ons moet daar kom."
Freek (Swart) die goeie politieke redakteur wat hy is, twyfel nie 'n oomblik nie. "Jy moet so gou moontlik in George kom." Ons kom ooreen om dit stil te hou. PW mag nie weet ons kom nie. Hy ken baie mense en iemand kan dalk net in sy oor fluister: "Die Sondagkoerant weet van alles." 'n Fotograaf gaan saam.
Ek gaan vinnig huis toe in Rondebosch en die fotograaf laai my op. Ons durf die lang pad George toe aan. Ons in die kar en FW in die presidensiële jet van Pretoria na George.
In George ry ons dadelik lughawe toe en sien FW se vliegtuig het pas geland. Die fotograaf is net betyds om 'n foto te neem toe hy uit die vliegtuig klim. Ons jaag vooruit Wilderness toe, terwyl FW in 'n staatsmotor na Die Anker, PW se woning, geneem word.
Ons wag hom en sy geselskap naby die ingang van Die Anker in. Die fotograaf neem foto's. FW herken my en wys vriendelik vinger. Hy weet ons is daar en sal seker vir PW inlig. Die vergadering is agter geslote deure.
Ons ry terug George toe en maak kontak met FW se personeel en NP-lede.
Ek stel vas hy gaan die aand ook 'n NP-geleentheid by die King George Hotel bywoon. Ek word meegedeel dat hy waarskynlik met my sal praat, maar eers na die funksie. Die groot wag begin.
Later ry ons terug Wilderness toe. Die ontmoeting is al verby en ek stuur 'n boodskap saam met 'n veiligheidswag vir PW. Na 'n rukkie kom die veiligheidswag terug. Nee, mnr. Botha wil nie praat nie. Hy sal self later 'n verklaring uitreik.
Weer terug op die N2 deur die mooie Kaaimansrivierpas na George. Ons wag. Laat die aand, omstreeks 21:30 kom FW en dr. Dawie de Villiers, vertroueling van De Klerk en minister in die Regering van Nasionale Eenheid, na buite by die King George Hotel. FW sal met my praat.
Dis laataand, maar ek weet vanaand moet ek my storie ken. FW is verbasend genoeg in 'n goeie luim, al het hy 'n moeilike dag gehad. Ons gaan sit in die hoek van die hotel se dameskroeg.
Dis hy, Dawie, 'n lyfwag, die fotograaf en ek. Ons gesels. Soms op die rekord en ander dele off the record. Dit blyk of die vergadering nie goed afgeloop het nie en hy en PW het erg swaarde gekruis. FW vertel in breë trekke van die ontmoeting. Wanneer ons op die rekord praat, weeg FW sy woorde versigtig.
In 'n stadium begin FW ontspan en rook. Hy vra die fotograaf om hom asseblief nie af te neem wanneer hy rook nie. Die gesprek vind in 'n goeie gees plaas en jare later dink ek nog steeds aan ons gesprek. Veral verlede Donderdag, toe dink ek baie terug aan daardie dag.
Dit was 'n voorreg om dit in 'n beroepshoedanigheid te kon beleef.
Maar dit het uiteindelik ook 'n persoonlike element gehad. Soms, terwyl mens dit nie eers weet nie, kry jy in 'n stadium 'n voorsmakie van wat in die toekoms wag. In my wildste drome het ek daardie Vrydag in 1995 nooit kon droom dat ek minder as 13 jaar later in die George-gebied sou woon nie. En dat ek eendag in George sou hoor van FW se dood.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'