Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die eienaars van Victoriastraat 103 moes Sondag vir die soveelste keer hulpeloos toekyk hoe rou riool in hulle erf uitborrel en oor hul tuinwoonstel se stoep spoel.
Volgens René Hayter-Lubbe, wat al 30 jaar die huis besit, is hulle raadop. Haar ma woon in die tuinwoonstel.
"Dit is omtrent al die vyfde keer in 'n jaar dat rou riool hier voor my ma se woonstel uitstroom en ons lewe hel maak."
Volgens haar word die probleem veroorsaak deur 'n aanvanklike verstopping van die rioolpyp aan die bopunt van Victoriastraat naby die weermagbasis. Sodra daardie verstopping skoongemaak is, stroom riool tot by 'n punt by die kruising van Victoriastraat en Jan van Riebeeckweg, naby Hayter-Lubbe se huis.
"Hier verstop dit dan weer en dan stoot alles in die pyp op tot in ons erf waar dit by ons mangat uitstroom." Uit pure radeloosheid het sy hierdie week 'n video van die riool wat oor haar ma se stoepie stroom, op Facebook geplaas, maar dit later verwyder omdat mense hewig teen die owerhede te velde getrek het.
"Die munisipaliteit het onmiddelik gekom toe ons hulle gebel het, maar toe is ons erf reeds onder stinkende riool wat orals lê."
Volgens haar is die probleem blykbaar dat die hoeveelheid riool wat van die weermagbasis af kom eenvoudig té veel is vir die bestaande stelsel. Sy noem ook dat munispale werkers wat Sondag die verstopping bo in Victoriastraat skoongemaak het hope vaste materiaal uit die stelsel verwyder het.
"Dit is ongelooflik wat mense alles in toilette afspoel. Daar was stukke plastiek en selfs weggooidoeke en lappe."
Met die besoek van die Oudtshoorn Courant het Hayter-Lubbe gewys waar toiletpapier en gedroogde riool steeds in holtes en in beddings agtergebly het nadat munispale werkers die gemors probeer wegspuit het en ontsmet het.
Kyk 'n video hieronder:
"Die stank en die gemors was só erg, hulle het nie genoeg ontsmetmiddel gehad om te gebruik nie."
Volgens haar het die probleem die afgelope twee jaar geweldig toegeneem en haar bure het verlede Sondag ook onder die riool deurgeloop.
"Hier is gasthuise laer af in die straat en dit gaan nie lank wees voordat die gemors hulle ook tref nie. Die stelsel sal dringend opgegradeer moet word om te voorkom dat dit erger word," het sy gesê.
(Aangesien Woensdag 'n openbare vakansiedag was, kon terugvoer van die munisipaliteit nie betyds bekom word nie)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'