Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Justin Booysen-moordsaak is verlede week in die streekhof tot volgende jaar uitgestel omdat ‘n staatsgetuie weens ‘n abses in die mond nie kon getuig nie.
Die saak was vir vier dae se verhoor, van Dinsdag 21 November tot Vrydag 24 November, op die hofrol.
Simphiwe Ndoni (32), Ephrahim Malgas (42), Breyton Bruiners (24) en Lorenzo Malgas (25) staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, aanranding om ernstig te beseer en onwettige besit van 'n vuurwapen terwyl Ephrahim Malgas, ook aangekla word van sameswering om moord te pleeg.
Booysen is na bewering in November 2019 in sy woning in Rosebank geskiet. Streeklanddros Kenneth Peters het nadat hy deur die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, oor die toestand van die getuie ingelig is, opdrag gegee dat hy deur die ondersoekbeampte na die hof gebring moet word.
Justin Booysen
Die hof was daarna, na konsultasie met die getuie, tevrede en die saak is vir ‘n verslag van ‘n spesialis tot 16 Januarie 2024 uitgestel.
Daar was groot vreugde onder familielede en vriende van Ephrahim ‘Speekbout’ Malgas toe die hof gelas het dat hy op waarskuwing vrygelaat kan word omdat hy reeds ‘n vonnis wat hom opgelê is vir die besit van dwelms uitgedien het, en die hof nie kon sien waarom hy, in die lig van al die vertragings, in aanhouding moet bly nie.
Malgas is op een voorwaarde vrygelaat, naamlik dat hy vir 24 uur per dag in huisarres bly en by sy suster tuisgaan.
Die hof het die borgtog van Breyton Bruiners en Lorenzo Malgas tot 16 Januarie 2024 verleng terwyl Simphiwe Ndoni, ‘n gevonniste, in aanhouding bly.
Wenzel Botha van die Regshulpraad verskyn namens Ndoni en Ephrahim Malgas, Clayton Sampson vir Bruiners en adv. Benito Metembo vir Lorenzo Malgas.
Vorige arikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'