OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van 'n man wie se aansoek om te mag appelleer teen sy skuldigbevinding en vonnis van drie jaar vir dwelms in die hooggeregshof suksesvol was, is in die Oudtshoorn-streekhof na die hooggeregshof verwys.
Streeklanddros Sylvia Mandla het aan die 42-jarige Ephrahim Malgas, alombekend as Speekbout, verduidelik dat die hof nie oor die jurisdiksie beskik om sy aansoek aan te hoor nie omdat sy petisie in die hooggeregshof suksesvol was en hy ook daar om borgtog moet aansoek doen hangende die uitslag van sy appèl.
Malgas staan ook saam met drie ander verdagtes, Simphiwe Ndoni (32), Breyton Bruiners (24) en Lorenzo Malgas (25) tereg op 'n aanklag van moord op Justin Booysen, wat in 2019 in sy huis in Rosebank doodgeskiet is.
Die moordsaak dien voor streeklanddros Kenneth Peters van Kaapstad en is vroeër weens onvermydelike omstandighede, vir verdere getuienis, tot 23 Januarie 2023 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'