Update
OUDTSHOORN NUUS - Die beskadigde hoofpyplyn van die Raubenheimerdam na Oudtshoorn is suksesvol herstel en water word weer deur dié pyplyn gepomp.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder vir die Oudtshoorn-munisipaliteit, het Woensdag bevestig die lekkasie-opsporingspesialis kon geen verdere swakplekke of lekplekke in die tonnel onder die dam vind nie.
"Die pyplyn is weer met beton omhul en die werk in die tonnel aan die pyplyn is suksesvol voltooi. Die pyplyn is in bedryf gestel en voer tans water na Oudtshoorn."
Volgens Mangqwengqwe geniet die klepvervanging binne in die inlaattoring van die Raubenheimerdam nou aandag. "Van hierdie kleppe sluit nie meer dig toe nie en moet vervang word. Dit is ook 'n moeilike werk aangesien daardie kleppe groot en swaar is en die werkspasie binne die inlaattoring uiters beperk is."
Hy het gesê dit mag dalk nodig wees vir duikers om die inlate onder die water tydelik te seël sodat hierdie kleppe vervang kan word."
Die lekkasie aan die pyplyn is op 6 April ontdek, waar tot twee miljoen liter per dag uitgespuit het.
Die Raubenheimerdam was Woensdag 31,54% vol en die Mellvilledam 100% vol.
Lees vorige berigte hier:
- Werk aan pyplyn vorder goed
- Herstelwerk aan pyplyn begin
- Tegniese direkteur werp lig op massiewe pypbars
- Twee miljoen liter water per dag weg
- Foto wys dreigende waterramp
- Pypbars kan Oudtshoorn binne 2 dae droog laat
- Waterbeperkings nou streng gemonitor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'