OUDTSHOORN NUUS - 'n Pastoor van Dysselsdorp, wat 'n tweeling verkrag het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof op drie aanklagte van verkragting skuldig bevind. Die vonnisverrigtinge is tot volgende maand uitgestel.
Freddy Jaftha (48) het die dade in 2017 en 2018 met die 18-jarige tweeling gepleeg. Hy het onskuldig gepleit.
Volgens hom het die twee susters gereeld op versoek van hul moeder vir bidsessies na hom gekom en het hy nooit seksueel met hulle verkeer nie. "Dis 'n opgemaakte storie," het hy gesê.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof vir skuldigbevinding gevra omdat Jaftha nie die hof in sy vertroue geneem het nie en sy weergawe voortdurend aangepas het.
Sy vrou het ook alles probeer om hom te beskerm.
"Die klaers het geen rede gehad om die beskuldigde valslik te beskuldig nie," het Weyers gesê.
Volgens Jaftha se regsverteenwoordiger, adv. Steven Lourens, is daar egter gebreke in die staat se saak en behoort die beskuldigde die voordeel van die twyfel te kry.
Volgens Lourens het die bidsessies plaasgevind terwyl die beskuldigde se vrou net buite die kerk voor haar kombuisdeur gesit het en alles kon hoor wat binne die kerk aangaan. Sy was die kerk se jeugleier en die tweeling het nooit by die haar oor enigiets gekla nie.
Streeklanddros Daniël Boks het in sy uitspraak gesê die getuienis van Jaftha en sy vrou kan met veiligheid as vals en leuenagtig verwerp word.
Die kinders het 'n kronologiese uiteensetting van wat met hulle gebeur het en het geen rede gehad om hul kerkleier valslik te beskuldig nie.
Die een het ook nie geweet wat met die ander gebeur het nie en het uiteindelik aan verskillende persone vertel wat gebeur het.
Albei het getuig dat die beskuldigde hulle eers met olyfolie gesalf het en daarna hande opgelê het en hulle soutwater laat drink het voordat hy hulle verkrag het.
Hy het vir een van die susters gesê om haar by die huis te gaan was en vir niemand te vertel nie.
"Waarom sal die klaers die beskuldigde valslik beskuldig as hulle goed oor die weg gekom het. Daar was 'n goeie verhouding tussen hulle en hul geestelike vader," het die landdros gesê.
Die saak is vir 'n proefbeampteverslag en vonnis uitgestel tot 7 Desember en Jaftha se borgtog van R1 000 is tot dan verleng.
Lees vorige artikels:
- Dysselsdorp-pastoor in Maart verder verhoor
- Hof weier pastoor se versoek om getuies terug te roep
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'