Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Somber wolk van verdriet en wanhopigheid hang oor Oudtshoorn sedert dit verlede Sondagoggend bekendgemaak is dat Bridgton-rugbyklub se geliefde Boutros 'Boelie' May (29) met 'n skerp voorwerp doodgesteek is.
May se opspraakwekkende moord het landwyd opslae gemaak met verskeie lesers wat die sinneloosheid daarvan veroordeel het.
'n 24-jarige vrou, Felicia Afrika, is dieselfde oggend in hegtenis geneem en haar formele borgtogaansoek is tot môre, Vrydag 17 Februarie, uitgestel.
Boelie, soos May ook bekendgestaan het, was ten tyde van sy dood 'n geliefde lid van die plaaslike gemeenskap en ook 'n baie gewilde rugbyspeler wat sedert sy skooldae reeds vir Bridgton-rugbyklub uitgedraf het.
Dié tragiese voorval het Sondagoggend, 12 Februarie, net na 00:00 voor die afgebrande Pasella-gebou in Adderley-straat plaasgevind na 'n onderonsie waarin May noodlottig met 'n skerp voorwerp gesteek is.
Afrika is 'n paar uur na die moord deur die polisie in hegtenis geneem.
By navrae het die polisie aangedui dat May diep in sy skouer gesteek was waarna hy 'n paar uur later by die hospitaal oorlede is.
Ooggetuie
'n Ooggetuie het op voorwaarde van anonimiteit aan Oudtshoorn Courant gesê dat May aanvanklik nie deel was van die argument wat sy lewe geëis het nie.
"Ons was dié aand by die dans in St. Johnstraat. Ek en Boutros het toe later buite die klub op die hoek gestaan toe ons sien dat ons vriende, wat saam met ons by die dans was, besig is om met mense wat ons nie ken nie, te stry. Die oorsaak van die stryery was omdat hulle een van sy vriende se kar se tyres stukkend gesteek het. Ek het vir hom gesê "moenie betrokke raak nie", maar hy het geantwoord hy gaan net kyk wat aangaan. Ek is toe saam met hom. Op die toneel het Boutros 'n mes by een van die mans afgevat.
Die man wie se mes dit was, se girlfriend, het toe demand dat Boutros die mes teruggee, maar hy het geweier. Dis toe dat sy Boutros 'n paar keer hard op die bors klap. Boutros wou haar toe skrikmaak en het gemik-klap na haar.
Sy moes iewers nog 'n mes gekry het, of in haar besit gehad het, want die volgende oomblik het sy hom een keer in die skouer gesteek.
Boutros het nog agter die meisie wat hom gesteek het en haar ou aangehardloop, maar het na 'n paar meter inmekaargesak.
Ons het hom toe in die kar gelaai en na die hospitaal gejaag. Boutros het nog geleef en in die kar grappies gemaak tot by die hospitaal terwyl een van ons drukking op die wond geplaas het. Hy het self ook met die dokter gepraat. Na omtrent 'n uur is ons deur die mediese personeel meegedeel dat sy wond te diep was en dat hy dit nie gemaak het nie," het die getuie vertel.
Borgtog-petisie
Leon Campher, bekende gemeenskapswerker, aktivis en lid van Dysselsdorp Advieskantoor, het intussen op sosiale media aangekondig dat die gemeenskap, familie en vriende van Boutros 'n versoek aan die hof gaan bring dat borgtog aan Afrika geweier word.
Volgens Campher word daar 'n plakkaatbetoging Vrydag (môre) voor die hof beplan waar 'n memorandum met 'n petisielys oorhandig sal word.
Na afloop van die hofverrigtinge sal die betogers 'n kranslegging in Adderley-straat voor die Pasella-gebou hou op die toneel waar die tragiese voorval plaasgevind het.
Bridgton-rugbyklub
Bridgton-rugbyklub se voorsitter, Phillip Goliath, het May se afsterwe betreur en gesê dat sy dood die klub tot in sy fondamente geskud het.
"Boutros se dood simboliseer 'n dieper betekenis vir ons klub; wat daardie betekenis presies is, weet ek nie op hierdie stadium nie. Die duiwel het ons beroof, want rolmodelle in ons dorp is maar dun gesaai en die jonger spelers het opgekyk na Boutros - dis wat dit so moeilik maak vir almal om te aanvaar. Hy was altyd 'n man van min woorde, maar sy teenwoordigheid het altyd hard gepraat. Mens sou dadelik opmerk as hy die dag nie by oefeninge was nie, wat amper nooit was nie - so 'n ingestelde rugbyspeler was hy wat sy hart en siel vir die klub gegee het. Tot op sy laaste het hy nog die manne op ons WhatsApp-groep aangemoedig om die voorseisoenoefeninge by te woon. Namens die klub wil ek graag simpatie en medelye betoon aan Boutros se familie. Hy was 'n gentle giant wat niemand enige leed sou aangedoen het nie. Rus sag Boelie, jy sal verewig in ons harte voort leef," het Goliath gesê.
Bridgton-rugbyklub, spelers en ondersteuners het dieselfde dag van May se dood in groot getalle by May se ouerhuis opgedaag om eer en medelye te betoon.
SWD-rugby
Hennie Baartman, oud-SWD-rugby-president wat tans op die uitvoerende bestuur van SARU dien, het Dinsdag namens SWD 'n ruiker aan die familie oorhandig. Baartman is ook Bridgton-rugbyklub se huidige president.
Tydens die oorhandiging het Baartman aan die bedroefde familie gesê dat Boutros se dood op soveel vlakke nie sin maak nie.
"Die Bybel leer ons dat jy sal sterf soos jy geleef het, maar Boutros het nie een gewelddadige been in sy liggaam gehad nie. Hy het nie verdien om so wreed te sterf nie. Die familie kan hulself berus dat hulle 'n goeie opgevoede seun grootgemaak het."
Boutros se agtergrond
Boutros se biologiese ma is op 'n jong ouderdom oorlede en sy grootmaak-ma, Bevedine May, het die rol van moeder in sy lewe vertolk. Bevedine vertel dat Boutros direk na skool in 2013 vir Watson-skoenfabriek begin werk het.
"Sy woorde destyds aan my was, ek wil tog nie by die huis leeglê nie, want dis my plig om te werk. Dis die tipe verantwoordelikheidsin wat hy gehad het en boonop het hy glad nie gedrink of gerook nie. Hy het selfs nog onlangs by die polisie en bewaardersposte aansoek gedoen, want sy droom was om eendag vir die staat te werk.''
''Deesdae kry mens nie sommer meer 29-jarige mans wat gehoorsaam is aan sy ouers nie, maar hy het nooit teëgepraat nie en sou liewer skaam glimlag. Sy persoonlikheid was een van vriendelikheid en alhoewel hy nie baie spraaksaam was nie, was hy baie geliefd onder sy vriendekring. Sy ouma het Maandagoggend soos gewoonlik sy kosblik uitgehaal om vir hom kos in te pak vir werk toe dit haar byval dat hy nie meer met ons is nie; sy het selfs weer na sy kamer gegaan net om 'n lee bed te sien. Ons familie in die huis het toe in trane uitgebars toe ons besef hy kom regtig nie weer terug nie," het 'n emosionele Bevedine gesê.
Boutros was ongetroud en laat geen kinders agter nie. Hy was ook vir meer as vyf jaar in ' n verhouding met Bertha Ewerts van Prins Albert met wie hy in Desember sou trou.
Verdagte se pa
Afrika se pa, Ferdinand Ewerts, het tydens 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant gesê dat hy simpatiseer met Boutros se familie omdat hy self weet wat dit is om 'n kind aan die dood af te staan.
"Ons kan ons kinders die beste dissipline by die huis leer, maar wat hulle daar buite doen, sal ons nie weet nie. Ons kan dus nie verslag gee wat regtig Sondagoggend gebeur het nie. Felicia het kort voor haar arrestasie byvoorbeeld aan my gesê dat die oorledene haar rondgeklap het. Of dit waar is, al dan nie, dit bly haar weergawe, en netso moet die getuies van die oorledene se weergawes ook gerespekteer word. Kom ons laat geregtigheid geskied, en nie 'n public court of opinion nie," het Ewerts gesê.
Ewerts het bygevoeg dat hy bewus is van die borgtorg-petisie teen sy dogter en 'n pleidooi aan die publiek gerig dat die gereg sy gang moet gaan.
"My dogter is maar net 24 jaar oud met geen kriminele agtergrond of rekord nie. Volgens my kon die partye die polisie gebel het met die klagtes oor die tyres wat stukkend gesteek is, dan sou hierdie tragedie in die eerste plek nie plaasgevind het nie. Nou wil die publiek druk op die landdros plaas om my kind van borgtog te weerhou waarop sy soos enige ander beskuldigde, geregtig is. Ek is ook bewus dat die oorledene se familie nou bande met die plaaslike staatsaanklaers, wetsgeleerdes en polisie het, en dis hoekom ons 'n prokureur van buite die dorp gaan aanstel om haar te verteenwoordig. As haar pa gaan ek alles in my vermoë doen om te verseker dat my kind 'n regverdige verhoor en borgtogaansoek kry. Ongeag alles, gaan my hart uit na die oorledene se ma en wil ek haar bitter graag ontmoet vir vertroosting en versoening."
Felicia Afrika (24)
Begrafnis
Die begrafnis vind volgende Saterdag, 25 Februarie, plaas. Meer inligting sal later bekendgemaak word.
Ferdinand Ewerts. Foto: Wyndham Ewerts
Boutros 'Boelie' May. Foto's: Facebook
Vorige artikels:
- Boutros May-moord: Borgaansoek uitgestel
- Verdagte vasgetrek in Boutros May-moord
- Geliefde Bridgton-rugbyklubspeler oorlede
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'