Sonder dat hy dit geweet het, het Basie van der Mescht van Theronstraat die praktiese voorbeeld gestel van hoe die droomprojek wat destyds in Bonnievale begin het moet werk. Die sukses agter die droomprojek is dat mense by hulle eie plekke begin en daar skoon- en mooimaak, en dit doen Basie al vir meer as vyf jaar.
Hy vertel dat die stukkie munisipale grond wat langs die huis lê waar hy en Lena al tien jaar woon vol bossies en rommel was en dat hy sowat vyf jaar gelede besluit het om die stuk grond soos sy eie tuin te hanteer.
Met die toestemming van die munisipaliteit het hy die lappie grond geskoffel en stelselmatig kaktusse, turksvye en aalwyne begin aanplant. Hy het selfs 'n klein dammetjie gegrawe wat volloop as dit reën en waar voëltjies die heeldag kan kom dors les.
"Ek het vroeër op Volmoed gewoon," sê die afgetrede Eskom-amptenaar, "en toe ek besluit om die tuin aan te lê het ek teruggegaan en stukkies kaktusse van Volmoed af aangery en hier kom plant. Dis harde werk, want die grond is die ene klip, maar dis die soort grond waarvan die plante hou."
Hy wys trots na sy eie tuin wat nog netjieser is as die stukkie grond wat hy onderhou. "Ek hou van my dinge agtermekaar en as ek iets doen, doen ek dit ordentlik."
As die dammetjie water het, plant hy sommer 'n paar groentetjies ook onder die wal, soos die tamaties wat nou aan die groei is.
Sy vrou, Lena, sê een van die redes waarom hy die stuk grond skoon gemaak het was al die slange wat daar geboer het.
Die twee is trots op die stukkie Karootuin en vertel dat mense gereeld daar stop om te kyk as die kaktusse blom. Een reusekaktus, waarvan die blomme snags oopgaan is juis nou op die punt om te blom.
Met die besoek van die Oudtshoorn Courant, Dinsdag, het Basie net een versoek gehad; dat die munisipaliteit die drie hope tuinvullis wat hy die afgelope maande uitgeskoffel het en in netjiese hope bymekaar gemaak het sal wegry. Nadat die Oudtshoorn Courant die munisipaliteit Woensdag telefonies van die versoek verwittig het, het hulle onderneem om die hope hierdie week nog te verwyder.
'n Mens kan nie anders as om te wonder hoe die dorp daar sal uitsien as elke inwoner dieselfde ingesteldheid en bereidwilligheid as Basie en Lena het nie.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
As dit reën kuier voëls die heel dag by die dammetjie.
Die tuin uit 'n ander hoek.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'