Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n Vrou en haar oorlede man wat onderskeidelik tot 1986 en 1991 petroljoggies was en nog nooit tot ‘n pensioenfonds bygedra het nie, is slegs twee van die groot aantal mense wat deur Oppiespoor Aksiegroep ingelig is dat hulle “baie” geld uit een of ander onbekende surplusfonds sal ontvang.
Die Oudtshoorn Courant het verlede week mense regoor die Suid-Kaap wat “registrasiegelde” aan Oppiespoor betaal het, genooi om hulle inligting vir die koerant te stuur.
Meer as 140 name is reeds ontvang, buiten meer as 100 wat vroeër uit Uniondale ontvang is, en terwyl die meerderheid van die mense stukkies papier ontvang het waarop Oppiespoor se agente bedrae van tot soveel as R600 000 as verwagte “uitbetalings” aangedui het, kon daar nog geen spoor gevind word van ‘n enkele persoon wat wel geld ontvang het nie.
Daar is selfs mense wat wag op geld wat hulle volgens Oppiespoor sou ontvang namens familielede wat meer as 30 jaar gelede oorlede is.
Die Oudtshoorn Courant berig reeds sedert 2016 oor Oppiespoor se optredes waar hulle voorgee om met “surpluskantore” en “pensioenfondse” saam te werk en teen ‘n fooi wat tans R250 beloop, navraag doen oor geld wat aan eisers verskuldig is.
Daar word egter geen afskrifte van eisvorms aan kliënte gegee nie en daar word glad nie bekendgemaak met watter “surpluskantoor” of “pensioenfonds” Oppiespoor veronderstel is om te skakel nie.
Oppiespoor se regsverteenwoordiger, Johan Wagener, het verlede week in ‘n brief aan die Oudtshoorn Courant daarop gewys dat kliënte ‘n “vrywaringsvorm” teken en ‘n kopie van die vorm aangeheg. Die inhoud van die vorm blyk egter teenstrydig te wees met Oppiespoor se werkswyse.
In die vrywaringsvorm word kliënte daarop gewys dat hulle self verantwoordelik is vir skakeling met die “pensioenfonds” en self moet sorg dat die korrekte eisvorms by die “pensioenfonds” ingedien word en na vier maande navrae aan die “pensioenfonds” moet rig, maar nie een kliënt met wie die Oudtshoorn Courant die afgelope weke gepraat het, het enige inligting van Oppiespoor met kontakbesonderhede van die “pensioenfonds” met wie hulle na bewering werk, ontvang nie.
Die kliënt het dus geen idee met watter “pensioenfonds” daar geskakel is nie en het ook geen manier om te bevestig dat hulle “eisvorms” aan enige pensioenfonds versend is nie.
Wagener het ook ‘n kopie van ‘n “antwoordlys” aangeheg wat Oppiespoor nou deur kliënte laat teken om hulle verder te vrywaar. Een van die vrae lui: “Was u ingelig dat Oppie Spoor se werksaamhede eindig nadat aansoekvorms voltooi en na die Pensioenfonds versend is?” Weereens moet die kliënt iets bevestig waarvoor hy of sy geen bewys ontvang nie.
Wagener het tydens vorige skrywes aangedui dat die media hom nie verder met navrae moet lastig val nie, maar die Oudtshoorn Courant gun hom en Oppiespoor steeds die geleentheid om op navrae en aantygings te reageer.
Oppiespoor se telefoonnommer is die afgelope twee weke buite werking en die enigste manier om hulle te kontak is by wyse van ‘n besoek aan hulle kantoor in die Johan Wagener-gebou in Kerkstraat.
Die Oudtshoorn Courant het vanoggend ‘n ander nommer vir Oppiespoor bekom en die oproep is deur Meneer Baartman beantwoord. Op ‘n vraag oor die onduidelikheid rondom die vrywaringsvorm het Baartman gesê, “Jy moet maar weer bel as die mense wat jou kan antwoord hier is, jy kan volgende jaar weer bel.”
Verwante artikels:
- Oppiespoor inligting benodig
- Oppiespoor laat glo spoor van vals hoop
- Oppiespoor dreig die koerant
- Oppiespoor afwesig oppielug
- Oppiespoor-kwessie op radio
- Wanneer ontspoor Oppiespoor?
- Inwoners op spoor van Oppiespoor
- Geen spoor van Oppiespoor geld
- Vrae oor Oppiespoor se prokureursbrief
- Oppiespoor stel wanpersepsie reg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'